Psalms 139NLV

1Here, U deursoek my en ken my.

2U weet of ek sit en of ek opstaan, U ken my gedagtes van ver af.

3Of ek op pad is, en of ek gaan lê, elke oomblik weet U waar ek is.

4Selfs voordat ek praat, Here, weet U al presies wat ek gaan sê.

5U sluit my in van voor en van agter. U hand van seën is op my.

6Dié kennis laat my in verwondering, dit is vir my te hoog om te begryp!

7Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug?

8Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar!

9Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,

10selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun.

11Sou ek sê: “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,”

12dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag, want duisternis is vir U soos lig.

13U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm.

14Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!

15My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot.

16U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.

17Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!

18As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees.

19As U net die goddeloses sal uitroei, o God! Gaan weg van my, julle moordenaars!

20Hulle smee bose planne teen U, u vyande misbruik u Naam.

21Moet ek hulle nie haat wat vir U haat nie, Here? Moet ek nie ’n afkeer hê van dié wat teen U in opstand kom nie?

22Ja, ek haat hulle met ’n volkome haat, want u vyande is my vyande.

23Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my en ken my onrustige gemoed.

24Kyk of daar enige sondige neiging by my is, en lei my op die ewige pad.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 139.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.