Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 139

:
Afrikaans - NLV
1 Here, U deursoek my en ken my.
2 U weet of ek sit en of ek opstaan, U ken my gedagtes van ver af.
3 Of ek op pad is, en of ek gaan lê, elke oomblik weet U waar ek is.
4 Selfs voordat ek praat, Here, weet U al presies wat ek gaan sê.
5 U sluit my in van voor en van agter. U hand van seën is op my.
6 Dié kennis laat my in verwondering, dit is vir my te hoog om te begryp!
7 Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug?
8 Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan ek in die doderyk, dan is U ook daar!
9 Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste,
10 selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun.
11 Sou ek sê: “Mag duisternis my oorweldig en die lig nag word rondom my,”
12 dan is die nag vir U nie donker nie, maar is so helder soos dag, want duisternis is vir U soos lig.
13 U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm.
14 Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het. U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
15 My bene was vir U sigbaar toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes van die moederskoot.
16 U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.
17 Kosbaar is u gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!
18 As ek dit sou moes tel, sou hulle meer wees as sandkorrels! Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek nog steeds by U wees.
19 As U net die goddeloses sal uitroei, o God! Gaan weg van my, julle moordenaars!
20 Hulle smee bose planne teen U, u vyande misbruik u Naam.
21 Moet ek hulle nie haat wat vir U haat nie, Here? Moet ek nie ’n afkeer van dié wat teen U in opstand kom nie?
22 Ja, ek haat hulle met ’n volkome haat, want u vyande is my vyande.
23 Deursoek my, o God, en ken my hart; toets my en ken my onrustige gemoed.
24 Kyk of daar enige sondige neiging by my is, en lei my op die ewige pad.