1Ek loof U met my hele hart, Here. Voor die gode sing ek u lof
2wanneer ek buig na u heilige tempel. Ek wil u Naam loof op grond van u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alle dinge verheerlik.
3Wanneer ek roep, antwoord U my; U bemoedig my en gee my krag.
4Here, al die konings van die aarde sal U dank wanneer hulle u woorde hoor.
5Hulle sal sing van die werke van die Here, want groot is die heerlikheid van die Here.
6Al is die Here hoog verhewe, gee Hy om vir die nederiges, maar die trotsaards ken Hy van ver af.
7As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag.
8Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie.