1***
2Hoe lank sal U my bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank nog sal U anderpad kyk?
3Hoe lank moet ek alleen planne maak, elke dag deurbring met droefheid in my hart? Hoe lank sal my vyand die oorhand hê?
4Kyk tog en antwoord my, Here my God! Verlig tog weer my oë dat ek nie die doodslaap ingaan nie,
5anders sê my vyand: “Ek het hom oorwin!” en is my teenstander bly oor my ondergang.
6Maar ek maak self staat op u troue liefde. Ek wil juig omdat U my gered het. Ek wil sing tot eer van die Here omdat Hy vir my goed was.