Bible

Upgrade

Your Church Presentations in Minutes

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Psalms 119

:
Afrikaans - NLV
1 Geseënd is hulle wat opreg lewe, wat leef volgens die gebooie van die Here.
2 Geseënd is hulle wat sy waarskuwings gehoorsaam, Hom met volle oorgawe dien,
3 nie onreg pleeg nie en op sy paaie wandel.
4 U het ons opdrag gegee om u bevele noukeurig te onderhou.
5 Mag my optrede voortdurend weerspieël dat ek u voorskrifte wil nakom.
6 Dan sal ek nie tot skande kom as ek maar net my op al u gebooie hou nie.
7 Wanneer ek u regverdige bepalings bestudeer, wil ek U dank met ’n opregte hart.
8 U voorskrifte sal ek nakom; moet my net nie verlaat nie!
9 Hoe kan ’n jongmens ’n skoon lewe lei? Deur sy lewe in te rig volgens u woord.
10 Met my hele hart soek ek U; moenie dat ek afdwaal van u gebooie nie.
11 Ek het u woord in my hart gebêre sodat ek nie teen U sou sondig nie.
12 Geseënd is U, o Here; leer my u voorskrifte.
13 Die bepalings van u mond het ek met my lippe bekendgemaak.
14 In u voorwaardes het ek my verlustig soos ’n mens bly is oor rykdom.
15 Ek wil oor u bevele nadink en let op u weë.
16 Ek sal my verbly in u voorskrifte en u woord nie vergeet nie.
17 Wees goed vir u dienaar sodat ek mag lewe en u woord gehoorsaam.
18 Maak oop my sodat ek die wonders kan sien wat opgeskryf is in u gebooie.
19 Al is ek net ’n vreemdeling op aarde, moenie u gebooie van my weghou nie.
20 Ek word voortdurend verteer deur ’n begeerte na u bepalings.
21 U bestraf trotsaards en vervloektes wat afdwaal van u gebooie.
22 Weer smaad en belediging van my, want ek gehoorsaam u waarskuwings.
23 Al sit en praat heersers saam teen my, sal ek u voorskrifte oordink.
24 U waarskuwings is beslis my vreugde; dit gee my goeie raad.
25 Ek in die stof, op pad na die graf; laat my herlewe volgens u woord.
26 My optrede het ek bekendgemaak, en U het geantwoord. Leer my nou u voorskrifte.
27 Leer my verstaan die betekenis van u bevele, sodat ek u wonders kan oordink.
28 Ek huil van droefheid; versterk my soos U in u woord beloof.
29 Bewaar my van leuenagtige weë; leer my in genade u gebooie.
30 Ek het die betroubare pad gekies; ek lewe volgens u bepalings.
31 Ek hou vas aan u voorwaardes, Here. Moenie dat ek in skande kom nie!
32 Ek sal die pad van u gebooie navolg, want U sal my begrip verbreed.
33 Leer my, Here, hoe om u voorskrifte uit te voer sodat ek hulle tot die einde toe kan nakom.
34 Gee vir my insig dat ek kan leef volgens u gebooie, en dit van harte gehoorsaam.
35 Laat my wandel volgens u gebooie, want dis waarin ek vreugde vind.
36 Laat my verlang na wat U vereis; verhoed dat ek materialisties word.
37 Weerhou my van waardelose dinge; laat my lewe volgens u voorskrifte.
38 Bevestig opnuut aan my u belofte, wat bedoel is vir hulle wat U dien.
39 Neem weg die smaad wat ek vrees, want u bepalings is goed.
40 Ek verlang van harte na u bevele. Laat my lewe deur u geregtigheid.
41 Here, laat u troue liefde my oordek, die redding wat U my belowe het.
42 Dan kan ek my spotters antwoord, want ek vertrou op u woord.
43 Laat ek tog altyd die waarheid praat, want ek hoop op u geregtigheid.
44 Ek sal u gebooie gehoorsaam so lank as wat ek lewe.
45 Ek sal in vryheid kan lewe, want ek soek u bevele.
46 Voor konings sal ek praat oor u verordeninge, sonder om skaam te wees.
47 Ek verlustig my in u gebooie wat ek baie liefhet.
48 Met eerbied lig ek my hande op vir u gebooie wat ek liefhet. Ek dink na oor u voorskrifte.
49 Onthou die beloftes aan u dienaar, want U het my laat hoop.
50 U belofte laat my weer lewe, dit vertroos my in al my ellende.
51 Die hoogmoediges minag my op groot skaal; tog wyk ek nie af van u gebooie nie.
52 Ek onthou u bepalings van ouds; dit vertroos my, Here.
53 Ek is baie ontsteld oor die goddeloses, hulle wat u gebooie verwerp.
54 U voorskrifte is vir my ’n lied tydens my aardse vreemdelingskap.
55 In die nag dink ek aan U, Here, en sal u gebooie gehoorsaam.
56 Dit is soos ek gedoen het, want ek het u bepalings gehoorsaam.
57 Here, ek behoort aan U! Ek ek wil u woord gehoorsaam.
58 Met my hele hart soek ek U. Wees genadig soos U beloof het.
59 Ek het my lewenspad oordink en het teruggedraai om volgens u voorwaardes te lewe.
60 Ek wil gou maak en sonder versuim u gebooie gehoorsaam.
61 Bande van bose mense verstrik my, maar ek vergeet nie u gebooie nie.
62 Middernag staan ek op om U te dank vir u regverdige bepalings.
63 Ek is ’n vriend vir almal wat U dien, vir elkeen wat u bevele gehoorsaam.
64 Here, die aarde is vol van u trou; leer my tog u voorskrifte.
65 U het aan my goedgedoen, Here, net soos U belowe het.
66 Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie.
67 Voor ek gely het, het ek telkens afgedwaal, maar nou leef ek volgens u woord.
68 U is goed en doen net wat goed is; leer my u voorskrifte.
69 Verwaande mense het leuens oor my verkondig, maar ek sal u bevele met my hele hart uitleef.
70 Hulle harte is afgestomp en koud, maar ek verlustig my in u gebooie.
71 Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer.
72 Die gebooie uit u mond is vir my meer waardevol as baie goud en silwer.
73 U hande het my gemaak, my gevorm. Gee my tog insig om u gebooie te verstaan.
74 U dienaars sal my sien en bly wees, want op u woord hoop ek.
75 Ek weet, Here, u bepalings is reg; op grond van u trou bestraf U my.
76 Laat u troue liefde my nou vertroos soos U aan u dienaar beloof het.
77 Laat u medelye my oordek sodat ek kan lewe, want u gebooie is my vreugde.
78 Laat die verwaandes in skande kom omdat hulle my vals beskuldig; maar ek sal u bevele oordink.
79 Laat u dienaars terugkom na my toe, hulle wat u voorskrifte ken.
80 Mag ek onberispelik wees in die uitleef van u gebooie; dan hoef ek nooit beskaam te wees nie.
81 Ek verlang na u redding; ek vertrou op u woord.
82 Ek ooreis my om te sien wanneer u beloftes waar word, en vra: “Wanneer sal U my vertroos?”
83 Ek het verskrompel soos ’n wynsak in rook, maar ek vergeet nie u voorskrifte nie.
84 Hoe lank moet u dienaar wag? Wanneer straf U my agtervolgers?
85 Hierdie verwaande mense wat nie leef volgens u gebooie nie, het vir my vanggate gegrawe.
86 Al u gebooie is betroubaar. Help my, want hulle vervolg my sonder rede.
87 Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn, maar ek het geweier om af te sien van u bevele.
88 Op grond van u troue liefde, spaar tog my lewe sodat ek kan voortgaan om u waarskuwings te gehoorsaam.
89 U woord, Here, is vir altyd, dit staan vas in die hemel.
90 U trou is vir geslag na geslag, U het die aarde gevestig, en dit staan nog vas.
91 U bepalings is vandag nog waar, want al hierdie dinge is u dienaars.
92 As u gebooie nie vir my vreugde was nie, sou ek gesterf het van ellende.
93 Ek sal u bevele nooit vergeet nie, want daardeur gee U my die lewe.
94 Ek behoort aan U; red my tog! Want ek vra na u bevele.
95 Bose mense wag my in om my dood te maak, maar ek neem u waarskuwings in ag.
96 Selfs volmaaktheid het sy perke, maar u gebooie ken geen grense nie.
97 Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.
98 U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het, want dit is gedurig by my.
99 Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings.
100 Ek het meer begrip as ouer mense, want ek lewe volgens u bevele.
101 Verkeerde paaie het ek vermy, sodat ek u woord kan gehoorsaam.
102 Ek het nie afgewyk van u bepalings nie, want U het my dit geleer.
103 Hoe aangenaam is u woorde vir my; dis soeter as heuning in my mond.
104 Deur u bevele kry ek insig; daarom haat ek elke valse pad.
105 U woord is ’n lamp vir my voete en ’n lig op my pad.
106 Ek het reeds belowe, en ek bevestig: u regverdige bepalings sal ek gehoorsaam.
107 Ek het baie swaargekry, Here. Vernuwe my lewe volgens u woord.
108 Here, aanvaar die offers van my mond, en leer my u bepalings.
109 My lewe is gedurig in die weegskaal, maar u gebooie sal ek nie vergeet nie.
110 Die goddeloses stel vir my ’n strik; tog sal ek van u bevele nie afdwaal nie.
111 U verbondsbepalings is my erfdeel vir altyd; dit is die vreugde van my hart.
112 Ek wil leef volgens u voorskrifte, vir altyd, tot die einde toe.
113 Ek haat besluitelose mense, maar u gebooie het ek lief.
114 U is my toevlug en beskermer; ek vertrou op u woord.
115 Gaan weg van my, kwaaddoeners, want ek gehoorsaam die gebooie van my God.
116 Hou my staande soos U beloof het sodat ek kan lewe. Laat my nie beskaam wees in my hoop nie.
117 Ondersteun my en ek sal gered word; ek sal u voorskrifte altyd eerbiedig.
118 U verwerp almal wat van u voorskrifte afwyk. Hulle ontrou lei tot selfbedrog.
119 Al die bose mense van die aarde is soos skuim wat U afskep; daarom het ek u waarskuwings lief.
120 Ek bewe van vrees vir U; ek vrees u oordeel.
121 Moenie my oorlaat aan die genade van my vyande nie, ek het gedoen wat reg en regverdig is.
122 Beloof tog dat dit goed sal gaan met u dienaar. Moenie dat verwaande mense my verdruk nie.
123 Ek ooreis my om u redding te sien en u woord van geregtigheid.
124 Behandel u dienaar volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte.
125 Ek is u dienaar; gee my die vermoë om te onderskei sodat ek u voorwaardes kan verstaan.
126 Dis tyd dat U optree, Here, want hulle het u gebooie oortree.
127 Daarom is ek lief vir u opdragte, meer as goud, selfs die fynste goud.
128 Omdat elkeen van u bevele reg is, haat ek elke verkeerde pad.
129 U voorwaardes is wonderlik; daarom gehoorsaam ek hulle.
130 Begrip van u woord bring lig; dit gee insig aan die eenvoudige.
131 My mond is oop en ek snak na asem, want ek verlang na u gebooie.
132 Kyk tog na my in u genade, soos U doen vir almal wat u Naam liefhet.
133 Rig my treë deur u woord sodat boosheid my nie oorval nie.
134 Red my van menslike verdrukking sodat ek u bevele kan gehoorsaam.
135 Laat u guns oor u dienaar skyn; leer my al u voorskrifte.
136 Trane vloei in strome oor my wange omdat mense u gebooie minag.
137 Here, U is regverdig, en u oordele is reg.
138 U vereistes is regverdig; dit is baie betroubaar.
139 My ontsteltenis oorweldig my, want my vyande verontagsaam u woorde.
140 U beloftes is deeglik beproef; u dienaar het dit lief.
141 Al is ek gering en verag, ek misken nie u bevele nie.
142 U regverdigheid duur vir altyd, en u gebooie is betroubaar.
143 Angs en benoudheid sak op my toe, maar u gebooie is my vreugde.
144 U vereistes is altyd regverdig; gee my insig sodat ek kan lewe.
145 Ek roep tot U met my hele hart; antwoord my tog, Here! U voorskrifte sal ek gehoorsaam.
146 Ek roep na U: Red my, en ek sal u vereistes gehoorsaam.
147 Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord.
148 Die hele nag ek wakker om u woord te oordink.
149 Luister na my roepstem, Here, op grond van u troue liefde. Laat my lewe op grond van u regverdigheid.
150 Sluwe vervolgers kom al nader, maar lewe ver van u gebooie af.
151 Maar U is naby, Here, en al u gebooie is betroubaar.
152 Van lankal af het ek geweet dat u eise nooit verander nie. Res
153 Kyk tog na my lyding en red my; u gebooie het ek tog nie vergeet nie.
154 Behartig tog my saak en bevry my! Laat ek lewe soos U beloof het.
155 Bose mense is ver van redding, want hulle steur hulle nie aan u voorskrifte nie.
156 Groot is u barmhartigheid, Here! Hou my lewe in stand volgens u bepalings.
157 My vervolgers en vyande is talryk; tog wyk ek nie af van u eise nie.
158 Ek kyk met afkeer na die ontroues, want hulle misken u woord.
159 Sien raak dat ek u bevele liefhet, Here. Laat my lewe op grond van u liefde.
160 Alles wat U sê, is betroubaar; u regverdige bepalings is vir altyd.
161 Heersers vervolg my sonder oorsaak, maar al wat ek vrees, is u woord.
162 Ek verheug my in u woord soos iemand wat ’n groot skat ontdek.
163 Alle valsheid haat en verafsku ek, maar u gebooie het ek lief.
164 Ek loof U sewe keer per dag omdat al u bepalings regverdig is.
165 Hulle wat u gebooie liefhet, het groot sekuriteit en niks sal hulle laat struikel nie.
166 Ek sien uit na u redding, Here; daarom voer ek u gebooie uit.
167 Ek het u eise gehoorsaam, en het dit baie lief.
168 Ek gehoorsaam u bevele en eise, want U weet van alles wat ek doen.
169 Here, luister na my geroep; gee vir my insig soos U beloof het.
170 Luister tog na my smeekgebed; red my soos U beloof het.
171 Laat my lippe uitbreek met lof, want U het my u voorskrifte geleer.
172 Laat my tong sing oor u woord, want u bepalings is regverdig.
173 Mag U gereed wees om my te help, want u bevele het ek eerste gestel.
174 Here, ek het verlang na u redding, en u gebooie is my vreugde.
175 Laat my lewe sodat ek U kan prys, en mag u bepalings my ondersteun.
176 Soos ’n verlore skaap het ek gedwaal; kom en soek my tog, want u gebooie het ek nie vergeet nie.