Psalms 118NLV

1Loof die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd.

2Laat Israel sê: “Sy goedheid duur vir altyd.”

3Laat die huis van Aäron sê: “Sy goedheid duur vir altyd.”

4Laat almal wat die Here dien, sê: “Sy goedheid duur vir altyd.”

5In my nood het ek tot die Here gebid. Die Here het my geantwoord en my bevry.

6Die Here is by my, ek sal nie bang wees nie. Wat kan ’n mens aan my doen?

7Die Here is by my, Hy help my. Ek sal neersien op my haters.

8Dit is beter om by die Here te skuil as om staat te maak op mense.

9Dit is beter om by die Here te skuil as om op vername mense te vertrou.

10Al die nasies het my omsingel; in die Naam van die Here het ek hulle afgeweer.

11Hulle het my inderdaad van alle kante omsingel, maar in die Naam van die Here het ek hulle afgeweer.

12Soos bye het hulle om my geswerm, maar soos brandende doringtakke is hulle geblus. In die Naam van die Here het ek hulle afgeweer.

13Hulle het probeer om my heeltemal om te stoot, maar die Here het my gehelp.

14Die Here is my sterkte en my beskerming; Hy het my redder geword.

15Vreugdeliedere van redding word gesing in die tente van die regverdiges. Die Here se regterhand het roemryke dinge gedoen.

16Die Here se regterhand is triomfantlik omhoog. Die Here se regterhand het roemryke dinge gedoen.

17Ek sal nie sterf nie, maar lewe, en van die Here se werke vertel.

18Die Here het my swaar gestraf, maar nie aan die dood oorgegee nie.

19Maak oop vir my die poorte van regverdigheid, dan sal ek ingaan en die Here loof.

20Dit is die poort na die Here; die regverdiges gaan hier in.

21Ek prys U omdat U my verhoor het en my redder geword het.

22Die klip wat die bouers afgekeur het, het nou die sluitsteen geword.

23Dit is die werk van die Here, en wonderlik vir ons om te aanskou.

24Dit is die dag wat die Here gemaak het. Laat ons daaroor juig en bly wees.

25Here, red ons tog, Here, gee ons tog voorspoed.

26Geseënd is die een wat kom in die Naam van die Here. Ons seën julle uit die tempel van die Here.

27Die Here is God, Hy laat sy lig oor ons skyn. Begin die optog, wuif die takke! Stapel dit op tot by die horings van die altaar.

28U is my God, en ek wil U prys! My God, ek sal U hemelhoog prys!

29Wees dankbaar teenoor die Here, want Hy is goed! Sy goedheid duur vir altyd!

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 118.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.