Psalms 109NLV

1O God, vir wie ek prys, moenie stilbly nie,

2want bose en vals mense kla my aan en vertel leuens oor my.

3Hulle omring my met woorde van wraak en sonder rede val hulle my aan.

4As antwoord op my liefde is hulle my aanklaers, en dit terwyl ek vir hulle bid!

5Hulle vergeld my kwaad vir goed en haat vir die liefde wat ek gee.

6Stel ’n bose persoon aan teen hom en ’n aanklaer aan sy regterkant.

7Wanneer hy geoordeel word, laat hy skuldig bevind word, en sy gebede as sonde gereken word.

8Laat sy dae min wees; laat iemand anders sy plek inneem.

9Mag sy kinders wese word en sy vrou ’n weduwee;

10mag sy kinders as bedelaars rondswerf, en kos soek tussen die bouvalle van hulle wonings.

11Laat skuldeisers beslag lê op al sy besittings, en vreemdelinge alles vat waarvoor hy hard gewerk het.

12Mag niemand vir hom goed wees of sy weeskinders bejammer nie.

13Mag al sy afstammelinge sterf, en hulle naam in een geslag uitgewis word.

14Mag die Here nooit sy voorouers se sondes vergeet nie; mag sy moeder se sondes nooit uitgevee word nie.

15Laat hierdie sondes voortdurend voor die Here wees, maar laat sy kinders se nagedagte uitgewis word uit die geheue van mense.

16Hy was nie goed vir ander mense nie, maar het die arm en behoeftige, ook dié wat moedeloos is, tot die dood toe vervolg.

17Hy het daarvan gehou om te vervloek; laat hy dit nou self ervaar. Ander het hy nooit geseën nie; laat seën vir hom ook veraf wees.

18Vervloeking was vir hom soos klere, soos water vir sy liggaam, soos olie vir sy beendere.

19Mag sy vervloeking wees soos klere wat hy dra, soos ’n gordel wat hy altyd aanhet.

20Mag dit die Here se beloning vir my aanklaers wees, vir hulle wat slegte dinge van my sê.

21Maar mag U, oppermagtige Here, met my handel tot eer van u Naam! Red my, want u getrouheid is so goed.

22Ek is arm en in nood, en my hart is hewig ontsteld binne-in my.

23Soos ’n skadu wat lank word, so kwyn ek weg. Ek is soos ’n sprinkaan wat afgeskud word.

24My knieë is swak omdat ek vas; ek is net vel en been.

25Mense spot met my; as hulle my sien, skud hulle die kop.

26Help my, Here my God! Red my op grond van u troue liefde.

27Laat hulle sien dat dit u werke is, dat U dit self gedoen het, Here.

28Hulle vervloek my, maar U sal my seën! My aanvallers sal beskaam word, maar u dienaar sal bly wees!

29Laat my aanklaers met skande bekleed wees, toegewikkel in oneer soos met klere.

30Ek sal aanhou om die Here te dank, Hom prys te midde van ’n menigte.

31Want Hy staan langs die behoeftige, gereed om hom te red van hulle wat veroordeel.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 109.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.