Psalms 107
1 Dank die Here, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie.
2 Hulle wat deur die Here gered is, sal sê dat Hy hulle verlos het van die vyand,
3 en dat Hy hulle versamel het uit baie nasies uit die ooste en die weste, uit die noorde en die suide.
4 Sommige mense het in ’n dorre land rondgedwaal, in ’n woesteny; maar die pad na ’n bewoonde stad kon hulle nie kry nie.
5 Hulle was honger en dors, hulle was heeltemal uitgeput.
6 “Here, help ons!” het hulle geroep, en Hy het hulle uit hulle nood gered.
7 Hy het hulle op die regte pad gelei, na ’n stad waar hulle kon woon.
8 Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir sy wonderdade aan mense.
9 Want Hy les die dors van hulle wat dors is, en versadig hulle wat honger is met goeie dinge.
10 Sommige mense was in duisternis, in diep donkerte, ellendige gevangenes in ysterboeie.
11 Hulle het in opstand gekom teen die voorskrifte van God. Die leiding van die Allerhoogste het hulle geminag.
12 Daarom het Hy hulle onderwerp deur hulle harde arbeid te laat doen; hulle het gestruikel, en daar was niemand om te help nie.
13 “Here, help ons!” het hulle geroep toe hulle in nood was, en Hy het hulle uit al hulle ellende bevry,
14 hulle uit duisternis en somberheid gered, en hulle boeie stukkend gebreek.
15 Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan mense.
16 Want Hy breek koperdeure af, en kap ystertralies stukkend.
17 Sommige mense was dwaas in hulle opstand en het weens hulle eie sondes gely.
18 Al hulle eetlus was weg, en die dood was naby.
19 “Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered.
20 Met ’n woord wat Hy gestuur het, het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk.
21 Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir al sy wonderdade aan hulle.
22 Laat hulle dankoffers bring en met vreugde van sy dade vertel.
23 Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf.
24 Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee.
25 Hy praat, en die stormwinde steek op, en die golwe word al hoër.
26 Die skepe is hemelwaarts geslinger en het dan weer dieptes toe getuimel. Die matrose, radeloos van vrees,
27 het net soos dronkaards getol en gewaggel, en al hulle kennis was tevergeefs.
28 “Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered.
29 Hy het die storm stilgemaak en die golwe het bedaar.
30 Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.
31 Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan hulle.
32 Laat hulle Hom verheerlik in die vergadering van die volk, en Hom prys in die byeenkoms van die leiers.
33 Hy verander riviere in woestyne, fonteinryke plekke in ’n dorsland,
34 en vrugbare landerye in brakgrond, weens die kwaad van die inwoners.
35 Maar Hy verander ook woestyne in waterryke vleie, droë grond in fonteinryke plekke
36 waar Hy hongeriges laat bly wat stede kan bou om in te woon.
37 Hulle bewerk lande, en plant wingerde wat goeie oeste oplewer.
38 Hy seën hulle en hulle vermeerder; ook hulle beeste laat Hy nie verminder nie.
39 Wanneer hulle verminder en kwyn, deur verdrukking, onheil en verdriet,
40 tref Hy hulle leiers met vernedering sodat hulle rondswerf in ’n woesteny sonder ’n pad.
41 Maar die armes in nood beskerm Hy, en Hy maak hulle nageslag so talryk soos troppe vee.
42 Die opregtes sal dit sien en bly wees, maar al die goddeloses sal stom word.
43 Laat dié wat verstandig is dit ter harte neem, en hulle aandag vestig op die trou van die Here.