Psalms 107NLV

1Dank die Here, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie.

2Hulle wat deur die Here gered is, sal sê dat Hy hulle verlos het van die vyand,

3en dat Hy hulle versamel het uit baie nasies uit die ooste en die weste, uit die noorde en die suide.

4Sommige mense het in ’n dorre land rondgedwaal, in ’n woesteny; maar die pad na ’n bewoonde stad kon hulle nie kry nie.

5Hulle was honger en dors, hulle was heeltemal uitgeput.

6“Here, help ons!” het hulle geroep, en Hy het hulle uit hulle nood gered.

7Hy het hulle op die regte pad gelei, na ’n stad waar hulle kon woon.

8Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir sy wonderdade aan mense.

9Want Hy les die dors van hulle wat dors is, en versadig hulle wat honger is met goeie dinge.

10Sommige mense was in duisternis, in diep donkerte, ellendige gevangenes in ysterboeie.

11Hulle het in opstand gekom teen die voorskrifte van God. Die leiding van die Allerhoogste het hulle geminag.

12Daarom het Hy hulle onderwerp deur hulle harde arbeid te laat doen; hulle het gestruikel, en daar was niemand om te help nie.

13“Here, help ons!” het hulle geroep toe hulle in nood was, en Hy het hulle uit al hulle ellende bevry,

14hulle uit duisternis en somberheid gered, en hulle boeie stukkend gebreek.

15Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan mense.

16Want Hy breek koperdeure af, en kap ystertralies stukkend.

17Sommige mense was dwaas in hulle opstand en het weens hulle eie sondes gely.

18Al hulle eetlus was weg, en die dood was naby.

19“Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered.

20Met ’n woord wat Hy gestuur het, het Hy hulle genees, en hulle van die dood weggeruk.

21Laat hulle die Here loof vir sy liefde, en vir al sy wonderdade aan hulle.

22Laat hulle dankoffers bring en met vreugde van sy dade vertel.

23Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf.

24Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee.

25Hy praat, en die stormwinde steek op, en die golwe word al hoër.

26Die skepe is hemelwaarts geslinger en het dan weer dieptes toe getuimel. Die matrose, radeloos van vrees,

27het net soos dronkaards getol en gewaggel, en al hulle kennis was tevergeefs.

28“Here, help ons!” het hulle geroep in hulle nood, en Hy het hulle uit al hulle ellende gered.

29Hy het die storm stilgemaak en die golwe het bedaar.

30Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.

31Laat hulle die Here loof vir sy liefde en vir al sy wonderdade aan hulle.

32Laat hulle Hom verheerlik in die vergadering van die volk, en Hom prys in die byeenkoms van die leiers.

33Hy verander riviere in woestyne, fonteinryke plekke in ’n dorsland,

34en vrugbare landerye in brakgrond, weens die kwaad van die inwoners.

35Maar Hy verander ook woestyne in waterryke vleie, droë grond in fonteinryke plekke

36waar Hy hongeriges laat bly wat stede kan bou om in te woon.

37Hulle bewerk lande, en plant wingerde wat goeie oeste oplewer.

38Hy seën hulle en hulle vermeerder; ook hulle beeste laat Hy nie verminder nie.

39Wanneer hulle verminder en kwyn, deur verdrukking, onheil en verdriet,

40tref Hy hulle leiers met vernedering sodat hulle rondswerf in ’n woesteny sonder ’n pad.

41Maar die armes in nood beskerm Hy, en Hy maak hulle nageslag so talryk soos troppe vee.

42Die opregtes sal dit sien en bly wees, maar al die goddeloses sal stom word.

43Laat dié wat verstandig is dit ter harte neem, en hulle aandag vestig op die trou van die Here.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 107.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.