1Prys die Here! Dank die Here, want Hy is goed! Sy trou ken geen einde nie.
2Wie kan die magtige dade van die Here beskryf, of sy lof ten volle bekendmaak?
3Gelukkig is hy wat geregtigheid laat geskied en wat altyd doen wat reg is.
4Dink aan my, Here, wanneer U aan u volk guns bewys; kom my met u redding tot hulp
5sodat ek deel kan hê aan die voorspoed van u uitverkorenes, my verheug in die vreugde van u nasie, en U loof saam met u eie volk.
6Ons en ons voorouers het gesondig. Ons het oortree en is skuldig.
7In Egipte het ons voorouers die Here se wonders gering geag, en sy baie dade van goedheid vergeet. By die Rietsee het hulle teen Hom in opstand gekom.
8Tog het Hy hulle gered ter wille van die eer van sy Naam, om sy mag bekend te maak.
9Op sy bevel het die Rietsee opgedroog sodat Israel op die seebodem kon trek. Dit was so droog soos ’n woestyn.
10Uit die vyand se mag het Hy hulle gered en hulle uit hulle teenstanders se mag verlos.
11Water het toe hulle vyande bedek. Nie een van hulle het dit oorleef nie.
12Toe eers het Israel sy beloftes geglo en het hulle sy lof besing.
13Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie.
14In die woestyn het hulle begeertes opgevlam. In die wildernis het hulle God se geduld beproef.
15Hy het gegee wat hulle gevra het, maar hulle ook getref met ’n siekte.
16In die kamp was hulle jaloers op Moses, en ook Aäron, wat aan die Here gewy was.
17Die aarde het oopgegaan, Datan ingesluk, en Abiram en sy bende begrawe.
18Onder die bende het vuur gewoed, vlamme het die bose mense verteer.
19By Horeb het hulle ’n kalf gemaak, en ’n beeld van metaal aanbid.
20Hulle roemryke God het hulle verruil vir die beeld van ’n bees wat gras vreet.
21Hulle het God vergeet, hulle redder wat in Egipte groot dinge gedoen het:
22wonderlike dinge in die land Egipte, ontsagwekkende dade by die Rietsee.
23Hy het gesê Hy sou hulle vernietig, maar Moses, sy uitverkorene, het vir die volk in die bres getree en gepleit dat God hulle nie in sy toorn vernietig nie.
24Maar die volk het die vrugbare land verwerp, en nie sy beloftes geglo nie.
25Hulle het in hulle tente gekla en nie na die Here geluister nie.
26Daarom het Hy ’n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sal laat omkom,
27dat hulle nakomelinge onder die nasies sou sterf, en oor die aarde verstrooi sou word.
28Maar hulle het Baäl-Peor vereer en geëet van die offers wat aan dooie afgode gewy is.
29Met hulle dade het hulle Hom getart sodat ’n plaag hulle getref het.
30Maar Pinehas het tussenbeide getree, en so is die plaag gestuit.
31Hy is beskou as ’n regverdige man, geslag na geslag, vir altyd.
32By die waters van Meriba het hulle die Here kwaad gemaak, en so het hulle vir Moses ernstige probleme besorg.
33Hulle het hom opstandig gemaak sodat hy onbesonne dinge gesê het.
34Israel het nie die nasies uitgeroei soos die Here hulle beveel het nie
35en het eerder met die nasies vermeng en hulle bose gewoontes aangeleer.
36Hulle het die nasies se afgode vereer, en dit het vir hulle ’n strik geword.
37Hulle het hulle seuns en dogters aan demone geoffer.
38Hulle het onskuldige bloed vergiet, bloed van hulle seuns en dogters wat hulle geoffer het aan die afgodsbeelde van Kanaän, en so die land met bloed bevlek.
39Hierdie dade het hulle onrein gemaak, net soos iemand wat egbreuk pleeg.
40Die Here se toorn het teen sy volk ontbrand, en Hy het sy eie volk verafsku.
41Hy het hulle oorgegee aan die nasies; hulle haters het oor hulle geheers.
42Hulle vyande het hulle verdruk en aan hulle mag onderwerp.
43Baie kere het Hy sy volk verlos, maar hulle het opstandig gebly en verder in hulle sondes weggesink.
44Tog het Hy hulle ellende raakgesien, en geluister na hulle hulpgeroep.
45Hy het gedink aan sy verbond met hulle, en Hy was genadig op grond van sy onfeilbare liefde.
46Hy het bewerk dat hulle veroweraars hulle met medelye behandel het.
47Here ons God, red ons! Versamel ons weer uit die nasies sodat ons u heilige Naam kan prys, in U bly kan wees, en U kan loof.
48Geseënd is die Here, God van Israel, van ewigheid tot ewigheid! Laat die hele volk sê: “Amen!” Prys die Here!