Psalms 105NLV

1Dank die Here, maak sy Naam bekend! Maak sy dade bekend aan die nasies.

2Sing vir Hom, sing tot sy eer! Vertel van sy wonderdade aan almal.

3Roem sy heilige Naam. Wees bly, dienaars van die Here!

4Vra na die Here en sy krag, hou aan om Hom te soek.

5Dink aan sy wonderdade, sy tekens en sy regspraak.

6Kinders van Abraham, sy dienaar, nakomelinge van Jakob, God se uitverkorenes.

7Hy is die Here ons God. Sy uitsprake is oor die hele aarde.

8Hy sal sy verbond altyd onthou, die bepalings wat Hy beveel het vir duisend geslagte,

9die verbond met Abraham gesluit en sy eed aan Isak.

10Hy het dit aan Jakob bevestig as ’n vaste bepaling, aan Israel as ’n voortdurende verbond:

11“Ek gee die land Kanaän vir jou as jou eie besitting.”

12Toe hulle maar min was, ’n klein groepie mense en vreemdelinge in die land,

13het hulle rondgetrek tussen die volke, van een koninkryk na die ander.

14Hy het nie toegelaat dat hulle verdruk word nie. Ter wille van hulle, het Hy konings gewaarsku:

15“Moenie my gesalfdes aanraak, en my profete kwaad aandoen nie.”

16Hy het ’n hongersnood oor die land gebring, en hulle kosvoorrade laat opraak.

17Hy het iemand vooruitgestuur: Josef, wat verkoop is as slaaf.

18Sy voete het hulle in boeie gedwing, en sy nek in ’n ysterhalsband gesit

19tot sy woord waar geword het, en die Here se woord hom reg bewys het.

20Toe het Farao hom vrygelaat; die heerser oor volke het hom bevry.

21Hy het hom aangestel oor sy huis, met gesag oor al sy eiendomme.

22Hy kon aan sy beamptes bevele gee, en sy hoofamptenare wysheid leer.

23Toe het Israel na Egipte toe gekom. Jakob het as vreemdeling in die land Egipte gaan woon.

24Die Here het sy volk laat vermeerder en hulle was magtiger as die vyande.

25Hy het hulle gesindheid verander sodat hulle sy volk gehaat het, en listig saamgesweer het teen die dienaars van die Here.

26Hy het Moses, sy dienaar, gestuur, en vir Aäron, wat Hy verkies het.

27Hulle het wondertekens tussen hulle verrig, en wonderwerke in die land Egipte.

28Hy het duisternis gestuur, en dit het donker geword. Nogtans het die Egiptenaars hulle teen sy bevele verset.

29Hy het hulle water in bloed verander, en so al die visse laat vrek.

30Toe het paddas die land oordek, tot in die koning se slaapkamer.

31Op sy bevel het swerms insekte gekom, en muggies oor die hele land.

32Hy het hael gestuur in plaas van reën, en weerlig oor hulle hele land.

33Wingerde en vyebome het Hy getref, en al hulle bome stukkend geslaan.

34Op sy bevel het sprinkane gekom, hordes sprinkane sonder tal.

35Al die groen plante in die land het hulle verorber, al die produkte van die landerye het hulle vernietig.

36Die oudste seuns in hulle land het Hy laat sterf, die eerstelinge van elke huisgesin.

37Toe het Hy Israel uit Egipte uitgelei, oorlaai met silwer en goud. Niemand in die stamme het gestrompel nie.

38Egipte was bly toe hulle getrek het, want hulle was almal baie bang vir hulle.

39Die Here het as bedekking ’n wolk oor hulle uitgesprei, en vuur om die nag te verlig.

40Hulle het kos gevra, en Hy het kwartels gestuur; met brood uit die hemel het Hy hulle versadig.

41Hy het ’n rots gekloof, en water het uitgestroom, ’n rivier het in dorre plekke gevloei.

42Hy het inderdaad sy heilige belofte aan Abraham sy dienaar onthou.

43Hy het sy volk met vreugde gelei, sy uitverkorenes uitgelei met gejuig.

44Die lande van nasies het Hy aan hulle gegee, en wat ander geplant het, het hulle geoes

45sodat hulle sy gebooie sou onderhou en sy voorskrifte sou gehoorsaam. Prys die Here!

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Psalms 105.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.