Psalms 102
1 ***
2 Here, luister na my gebed! Hoor my smeking om hulp!
3 Moenie van my wegdraai wanneer ek in nood is nie. Luister tog wanneer ek U aanroep en antwoord my tog gou,
4 want my dae verdwyn soos rook, my bene brand soos gloeiende kole.
5 My hart is verdor, verlep soos gras; ek het vergeet hoe om te eet.
6 As gevolg van my versugting is ek net vel en been.
7 Ek is soos ’n uil in die woestyn, soos ’n naguil tussen murasies.
8 Ek lê wakker, soos ’n eensame voël op ’n dak.
9 My vyande beledig my dag na dag. Hulle spot en vloek my.
10 Ek eet as in plaas van kos. My trane meng met wat ek drink
11 weens u gramskap en u toorn. Ja, U het my opgetel en my weggegooi.
12 My lewe is soos ’n skaduwee wat langer word. Ek is verskrompeld soos gras.
13 Maar U, Here, sal vir altyd regeer. U bly onthou van geslag tot geslag.
14 U sal verskyn en U oor Sion ontferm, want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek.
15 Want u dienaars het elke klip daarvan lief, en ontferm hulle selfs oor die puin.
16 Nasies sal die Here se Naam vereer, die konings van die aarde, u mag.
17 Wanneer die Here Jerusalem herbou, sal Hy verskyn in sy heerlikheid,
18 sal Hy luister na behoeftiges se gebede, en hulle pleidooi nie verwerp nie.
19 Dit moet opgeskryf word vir geslagte wat kom sodat ’n volk wat nog geskep sal word, die Here sal prys.
20 Vanuit sy hemelse heiligdom het Hy neergekyk. Die Here het vanuit die hemel na die aarde gekyk
21 om te luister na die smekinge van mense in tronke; om hulle wat veroordeel is, te red van die dood,
22 sodat hulle die Naam van die Here in Sion sal verkondig, en sy lofsange in Jerusalem,
23 wanneer skares bymekaarkom, en koninkryke kom om die Here te dien.
24 In my jeug het Hy my krag gebreek, Hy het my dae verkort.
25 Maar ek het gesmeek: “My God, moenie my lewe neem terwyl ek nog so jonk is nie! U is daar, geslag na geslag.
26 In die begin het U die aarde gevestig; die hemele is die werk van u hande.
27 Hulle sal vergaan, maar U is vir altyd; soos klere sal hulle verslyt. U sal hulle uittrek soos kledingstukke, en hulle sal verdwyn.
28 Maar U is altyd dieselfde; u jare ken geen einde nie.
29 Die kinders van u dienaars sal in die land woon. Hulle nageslag sal voor U gevestig word.”