1***
2Here, luister na my gebed! Hoor my smeking om hulp!
3Moenie van my wegdraai wanneer ek in nood is nie. Luister tog wanneer ek U aanroep en antwoord my tog gou,
4want my dae verdwyn soos rook, my bene brand soos gloeiende kole.
5My hart is verdor, verlep soos gras; ek het vergeet hoe om te eet.
6As gevolg van my versugting is ek net vel en been.
7Ek is soos ’n uil in die woestyn, soos ’n naguil tussen murasies.
8Ek lê wakker, soos ’n eensame voël op ’n dak.
9My vyande beledig my dag na dag. Hulle spot en vloek my.
10Ek eet as in plaas van kos. My trane meng met wat ek drink
11weens u gramskap en u toorn. Ja, U het my opgetel en my weggegooi.
12My lewe is soos ’n skaduwee wat langer word. Ek is verskrompeld soos gras.
13Maar U, Here, sal vir altyd regeer. U bly onthou van geslag tot geslag.
14U sal verskyn en U oor Sion ontferm, want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek.
15Want u dienaars het elke klip daarvan lief, en ontferm hulle selfs oor die puin.
16Nasies sal die Here se Naam vereer, die konings van die aarde, u mag.
17Wanneer die Here Jerusalem herbou, sal Hy verskyn in sy heerlikheid,
18sal Hy luister na behoeftiges se gebede, en hulle pleidooi nie verwerp nie.
19Dit moet opgeskryf word vir geslagte wat kom sodat ’n volk wat nog geskep sal word, die Here sal prys.
20Vanuit sy hemelse heiligdom het Hy neergekyk. Die Here het vanuit die hemel na die aarde gekyk
21om te luister na die smekinge van mense in tronke; om hulle wat veroordeel is, te red van die dood,
22sodat hulle die Naam van die Here in Sion sal verkondig, en sy lofsange in Jerusalem,
23wanneer skares bymekaarkom, en koninkryke kom om die Here te dien.
24In my jeug het Hy my krag gebreek, Hy het my dae verkort.
25Maar ek het gesmeek: “My God, moenie my lewe neem terwyl ek nog so jonk is nie! U is daar, geslag na geslag.
26In die begin het U die aarde gevestig; die hemele is die werk van u hande.
27Hulle sal vergaan, maar U is vir altyd; soos klere sal hulle verslyt. U sal hulle uittrek soos kledingstukke, en hulle sal verdwyn.
28Maar U is altyd dieselfde; u jare ken geen einde nie.
29Die kinders van u dienaars sal in die land woon. Hulle nageslag sal voor U gevestig word.”