1My seun, moenie vergeet wat ek jou geleer het nie. Hou vas aan my opdragte.
2Dit sal jou lank laat lewe en jou ’n voorspoedige lewe gee.
3Moenie dat jy tekort skiet aan liefde en getrouheid nie. Koester dit soos iets waardevols wat jy om jou nek dra. Skryf dit op die tafel van jou hart.
4Jy sal guns en ’n goeie naam verkry by God en by mense.
5Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie.
6Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys.
7Moenie jou eie wysheid oorskat nie. Hou eerder die Here voor oë en vermy wat sleg is.
8Dit sal jou liggaam gesond hou, jou lewe verkwik.
9Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes.
10Hy sal jou opgaarplekke vol maak. Jou parskuipe sal oorloop van al die wyn.
11My seun, moenie dit verontagsaam wanneer die Here jou reghelp nie. Moenie jou verset wanneer Hy jou teregwys nie.
12Die Here bestraf immers hulle wat Hy liefhet net soos ’n pa sy seun teregwys.
13Die mens wat wysheid kry, is gelukkig. Dit gaan goed met die mens wat insig kry.
14Wysheid het meer voordele as geld. Haar beloning is meer werd as goud.
15Wysheid het meer waarde as edelstene. Niks wat jy ooit kan begeer, vergelyk daarmee nie.
16Met die een hand gee wysheid ’n lang lewe. Met die ander hand rykdom en eer.
17Wysheid maak ’n mens gelukkig. Wie dit volg, beleef vrede.
18Vir dié wat daaraan vashou, is dit ’n boom van die lewe. Hulle wat daarop steun, is geseënd.
19Die Here het die aarde met wysheid op sy plek neergesit, met insig die hemel oopgespan.
20Deur sy kennis het water uit die diep fonteine geborrel en het daar reën uit die wolke geval.
21My seun, moenie takt en oorleg uit die oog verloor nie. Hou altyd daaraan vas.
22Dit sal jou lewe verryk en eer en agting vir jou bring.
23Jou pad sal veilig wees. Jy sal nie struikel nie.
24Jy sal kan gaan slaap sonder om bang te wees. Jy sal rustig kan bly slaap.
25Jy hoef nie bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie. Die rampe vir slegte mense bedoel, sal nie oor jou kom nie.
26Die Here is jou beskermer. Hy sal sorg dat jy nie in ’n strik trap nie.
27Moenie wag om goed te doen vir iemand wat dit nodig het nie, veral as dit vir jou moontlik is om dit te doen.
28Moenie vir jou buurman sê: “Gaan nou weg en kom môre weer, dan sal ek jou help,” terwyl jy dit nou al kon gedoen het nie.
29Moenie ’n plan beraam teen iemand wat vol vertroue by jou woon nie.
30Moenie sommer rusie soek met iemand wat jou nie kwaad aangedoen het nie.
31Moenie jaloers wees op iemand wat geweld gebruik nie. Moenie ook maak soos hy nie.
32Die Here het ’n afkeer aan skelms, maar neem mense wat reg lewe, in sy vertroue.
33Die vloek van die Here rus op die huis van die goddelose, maar hulle wat opreg lewe, seën Hy.
34Hy dryf die spot met mense wat ander spot. Hy is goed vir hulle wat nederig is.
35Wyse mense word vereer. Dwase mense kom in die skande.