Proverbs 26NLV

1Eer pas net so min by ’n dwaas soos sneeu in die somer en reën in oestyd.

2Ongeregverdigde vervloeking is soos dartelende voëltjies en ’n swaeltjie wat wegvlieg. Daar sal niks van kom nie.

3Stuur ’n perd met ’n sweep, ’n donkie met ’n toom en ’n dwaas met ’n lat vir sy rug.

4Moenie ’n dwaas antwoord volgens sy dwaasheid nie anders word jy net soos hy.

5Antwoord ’n dwaas volgens sy dwaasheid sodat hy nie homself as wys beskou nie.

6Om ’n boodskap saam met ’n dwaas te stuur, is net so goed as om jou voet af te kap of om gif te drink.

7’n Spreuk uit ’n dwaas se mond is net so onbruikbaar soos die bene van ’n verlamde persoon.

8Om ’n dwaas te vereer, is soos om ’n klip in ’n slingervel vas te bind.

9’n Spreuk uit ’n dwaas se mond is soos ’n doring in ’n dronk mens se hand.

10Iemand wat ’n dwaas of ’n verbyganger van die straat af huur, is soos iemand wat sommer blindelings ’n pyl afskiet.

11’n Dwaas wat sy foute herhaal, is soos ’n hond wat terugkom na sy eie braaksel toe.

12Daar is meer hoop vir ’n dwaas as vir iemand wat dink hy is baie slim.

13’n Luiaard se verskoning is: “Daar is ’n leeu op straat, ’n leeu is tussen die huise!”

14’n Luiaard draai om en om op sy bed, soos ’n deur heen en weer swaai op sy skarnier.

15’n Luiaard steek sy hand in die skottel, maar sy hand is te moeg om dit weer terug te bring na sy mond.

16Die luiaard dink hy weet meer as sewe ander mense wat goeie antwoorde kan gee.

17Om sommer in die verbygaan in te meng in ander mense se rusie is soos om ’n kwaai hond sommer aan sy ore te gryp.

18Soos ’n kranksinnige wat dodelike wapens afvuur,

19so is iemand wat ander bedrieg en sê: “Ek het net ’n grappie gemaak.”

20Soos ’n vuur uitbrand as jy nie hout opgooi nie, so hou ’n rusie op as daar nie skinderpraatjies is nie.

21’n Bakleierige mens veroorsaak rusies, net soos gloeiende kole ’n vuur laat opvlam en soos droë hout ’n vuur laat vlam vat.

22Na skinderstories luister mense graag, maar dit word maklik deel van jou lewe.

23Glasuur oor ’n potskerf, so is vleiende woorde wat uit ’n bose hart kom.

24Iemand wat in sy hart haat en bedrog koester, steek dit weg agter sy woorde.

25Wanneer so iemand mooi dinge sê, moet jy dit glad nie glo nie. Hy is vol bose bedoelings.

26Al steek hy sy haat vernuftig weg, sy kwaad sal in die gemeenskap duidelik word vir almal.

27Iemand wat ’n vanggat vir ’n ander mens grawe, val self daarin. Die klippe wat hy in ’n ander se pad rol, sal na hom toe terugkom.

28Iemand wat leuens vertel, haat dié wat hy benadeel. ’n Persoon wat ander vlei, veroorsaak ellende.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 26.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.