Proverbs 25NLV

1Hier is nog spreuke van Salomo. Koning Hiskia van Juda se amptenare het dit versamel.

2Dit is God se reg om iets geheim te hou. Dit is konings se voorreg om uit te vind wat iets beteken.

3So min soos iemand die hoogte van die lug of die diepte van die aarde kan bepaal, net so min kan iemand peil wat aangaan in die gedagtes van konings.

4Wanneer jy die onsuiwerheid uit silwer haal, kan die smid iets van die silwer maak.

5As jy die goddeloses by die koning wegvat, kan hy regverdig bly regeer.

6Moenie jou vernaam hou voor die koning, en moenie gaan staan op die plek vir belangrike mense nie.

7Dis beter wanneer vir jou gesê word: “Kom staan asseblief hier!” as dat jy plek moet maak vir iemand belangriker as jy. As jy iets opgemerk het,

8moet jy nie te haastig wees om ’n saak teen iemand anders te maak nie. Wat sal jy agterna doen as jou buurman jou belaglik maak?

9Bespreek eers die saak met die ander persoon. Moenie te koop loop met wat iemand vertroulik vir jou gesê het nie.

10Jy kan dan beskuldig word dat jy skinder. Dan het jy vir altyd ’n slegte naam.

11Woorde op die regte tyd gesê, is soos goue appels in ’n silwer houer.

12Soos ’n goue ring by goue juwele, so is die wyse vermaning by die oor wat bereid is om daarna te luister.

13Vir die een wat hom stuur, is ’n betroubare boodskapper net so verkwikkend soos sneeu in die somerhitte van die oes. Hy gee vir sy werkgewer nuwe moed.

14Iemand wat spog oor ’n geskenk wat hy nooit gegee het nie, is soos wolke en wind wat geen reën bring nie.

15’n Leier kan met geduld oorreed word. Versigtige woorde breek harde weerstand af.

16Wanneer jy op heuning afkom, eet net tot jy genoeg gehad het. As jy te veel eet, gaan jy naar word.

17Moenie te veel by jou buurman gaan kuier sodat hy te veel van jou sien en ’n weersin in jou kry nie.

18Iemand wat vals getuienisse oor ’n ander versprei, is net so gevaarlik soos ’n knuppel, ’n swaard en ’n skerp pyl.

19’n Gebreekte tand, ’n voet wat swik, so is dit om in gevaar staat te maak op ’n onbetroubare mens.

20So onvanpas soos dit is om klere uit te trek op ’n koue dag, of asyn op bytsoda te sit, so min van pas is dit dat iemand vir jou liedjies sing wanneer jy treurig voel.

21As jou vyand honger is, moet jy hom iets gee om te eet. As hy dors is, gee hom iets om te drink.

22Die Here sal jou daarvoor vergoed. Jy sal buitendien kole ophoop op jou vyand se kop en hom vuurrooi maak van skaamte.

23So seker soos die noordewind altyd reën bring, so seker maak hulle wat agteraf praat altyd ander mense kwaad.

24Dit is beter om op die hoek van ’n platdak te bly, as binne-in ’n huis saam met ’n vrou wat oor alles stry.

25Goeie nuus van ’n ver land af is soos koue water vir ’n moeë mens se dors.

26’n Regverdige mens wat swig voor die goddelose is soos ’n fontein vol modder, soos ’n put met vuil water.

27Om te veel heuning te eet, is nie goed nie, so ook is iemand wat voortdurend sy eie eer soek.

28Iemand wat homself nie in bedwang kan hou nie, is soos ’n stad sonder ’n muur wat beskerming bied.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 25.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.