Proverbs 24NLV

1Moenie slegte mense beny en hulle geselskap begeer nie.

2Hulle dink net aan geweld. Hulle praat net daaroor om moeilikheid te maak.

3Met wysheid word ’n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou.

4Kennis is nodig om sy kamers te meubileer met allerhande kosbare en waardevolle artikels.

5’n Wyse man het krag. Iemand met kennis is sterk.

6Jy gaan maak eers oorlog nadat jy goed beplan het. Oorwinning kom wanneer baie raadgewers koppe bymekaargesit het.

7Wysheid is buite die begrip van ’n dwaas. Wanneer hulle in die stadspoort beraadslaag, is hy nie in staat om sy mond oop te maak nie.

8Iemand wat altyd sit en beplan om kwaad te doen word ’n knoeier genoem.

9Die knoeiery van die dwaas is sonde. Almal verag spotters.

10As jou knieë knak wanneer die krisis opduik, is jou krag maar baie min.

11Red die mense wat onskuldig na die galg toe gesleep word. Hulle sal doodgemaak word as jy nie keer nie.

12Moenie jou verontskuldig en sê: “Ons het nie geweet nie.” Hy wat die gedagtes toets, weet mos wat waarheid is. Hy wat sy hand oor jou hou, weet wat waar is. God roep elkeen tot verantwoording vir wat hy gedoen het.

13My kind, jy moet heuning eet. Dit is goed vir jou. Heuningstroop is lekker in die mond.

14Net so, moet jy weet, is wysheid vir jou lewe. As jy daarop afgekom het, is daar vir jou ’n toekoms. Jou hoop sal nie verydel word nie.

15Moenie ’n regverdige mens by sy huis gaan voorlê en soos ’n goddelose mens sy woonplek verwoes nie.

16Selfs al val ’n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp.

17Jy moenie bly wees as jou vyand val nie. Moenie jou daarin verheug dat hy gestruikel het nie.

18Die Here sal sien wat jy doen en sal ontevrede wees. Hy sal jou vyand nie verder straf nie.

19Moenie jou ontstel oor kwaaddoeners nie. Moenie afgunstig wees op goddelose mense nie.

20Vir iemand wat kwaad doen, is daar geen toekoms nie. Die lewenslig van goddeloses gaan dood.

21My kind, betoon eerbied aan die Here en die koning. Moet jou nie ophou met mense wat teen hulle in opstand is nie.

22Hulle ondergang kom skielik; niemand weet watter teëspoed God of die koning oor hulle gaan bring nie.

23Die woorde hieronder kom ook van wyse mense. Moenie bevooroordeeld wees wanneer jy moet regspreek nie.

24Die volk kryt ’n regter uit wat vir ’n skuldige sê: “Jy is onskuldig.” Mense en volke is verontwaardig daaroor.

25Wanneer regters ’n regverdige beslissing maak, word hulle geprys en oorvloedig geseën.

26Eerlike antwoorde is soos ’n soen op die mond.

27Maak eers buite reg en bewerk jou landerye. Daarna kan jy jou huis bou.

28Moenie teen iemand getuig as hy jou nie rede daarvoor gegee het nie. Moenie mense mislei met wat jy sê nie.

29Moenie sê nie: “Soos hy aan my gedoen het, sal ek aan hom doen. Ek sal hom in gelyke munt terugbetaal.”

30Ek het by ’n lui mens se landerye verbygeloop. Die wingerd was die eiendom van ’n onverstandige mens.

31Onkruid het dit heeltemal ingeneem. Dit was toegegroei onder bossies. Sy klipmuur het omgeval.

32Ek het nagedink oor wat ek gesien het. Ek het iets daaruit geleer.

33Nog ’n bietjie verder slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie handevou om agteroor te sit,

34dan kom jou armoede aangestap, en oorval behoeftes jou soos ’n gewapende inbreker by jou huis.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 24.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.