1Wanneer jy aansit vir ete saam met ’n regeerder, kyk dan goed na wat voor jou neergesit is.
2As jy ’n groot eter is, sit ’n mes teen jou keel.
3Moenie al die lekker kos begeer nie. Jy kan jou met die kos misgis.
4Moenie jou afsloof om ryk te word nie. Wees verstandig genoeg om binne perke te bly.
5As jy nog na jou rykdom kyk, is dit eensklaps weg. Dit sal vlerke kry soos ’n arend en wegvlieg in die lug.
6Moenie eet by ’n suinige mens nie. Moenie sy lekker kos begeer nie.
7Hy sê: “Eet en drink gerus!” Hy bedoel dit nie, want hy sit en bereken hoeveel dit hom sal kos.
8Jy sal naar word van die bietjie wat jy eet, jou komplimente sal jy moet sluk.
9Moenie ’n dwaas reghelp nie. Jou goeie raad behandel hy met minagting.
10Moenie die ou grense van ’n stuk grond verskuif nie. Moenie weeskinders se grond by hulle probeer afvat nie.
11Die Een wat hulle beskerm, is magtig. Hy sal hulle saak teen jou verdedig.
12Onderwerp jou aan dissipline. Luister goed na wat ek jou leer.
13Moenie bang wees om jou kind te dissiplineer nie. Hy sal nie doodgaan van ’n pak slae nie.
14As jy hom wil red van die dood, moet jy hom juis lyfstraf gee.
15Ek sal baie bly wees, my kind, as jy ook ’n wyse mens word.
16Ek sal in my hart juig wanneer jy reg praat.
17Moenie jaloers word op sondaars nie. Behou altyd jou ontsag vir die Here.
18Jy sal altyd ’n toekoms hê. Jou hoop sal nooit beskaam word nie.
19My kind, luister na my, dat jy wys kan word. Hou jou hart op die regte koers.
20Jy moenie jou tyd verspil op suiplappe en vrate nie.
21Die dronklap en die vraat maak hulleself arm. Die roes van dronkenskap laat hulle in vodde loop.
22Luister na jou pa wat jou die lewe gegee het. Moenie jou ma afskryf omdat sy oud geword het nie.
23Verkry waarheid. Moet nooit daarvan afstand doen nie. Hou vas aan wysheid, selfbeheersing en insig.
24’n Pa van ’n kind wat reg doen, het rede vir blydskap. ’n Wyse kind verskaf sy ouers groot vreugde.
25Laat daar rede wees vir jou pa en jou ma om oor jou bly te wees. Mag jou ma wat jou in die lewe gebring het, rede hê om oor jou te juig.
26My seun, maak jou hart vir my oop en volg my voorbeeld na.
27’n Sedelose vrou is soos ’n diep waterkuil. ’n Verleidster is soos ’n put waaruit jy nie kan kom nie.
28Sy sit en wag vir haar prooi soos ’n rower. Sy soek na iemand om te oorreed tot ontrouheid aan sy vrou.
29Wie het kopseer en lyfseer? Wie maak rusie en kla? Wie het onnodige kneusplekke? Wie se oë is bloedbelope?
30Dis dié wat tot laat sit en drink en allerlei mengsels proe.
31Moenie dat jy verlei word deur die rooi glans van wyn, die vonkel in die beker, die gladde manier waarop dit in jou keel afloop nie.
32Nadat jy dit gedrink het, pik dit soos ’n slang, spoeg dit gif soos ’n kobra.
33Jy sien dan vreemde dinge en jou gedagtes is verward.
34Dit voel of jy rondsteier soos ’n matroos op see, of op ’n seilboot rondslinger.
35Jy redeneer by jouself: “Hulle het my geslaan en ek het nie seergekry nie! Ek weet nie eers dat hulle my geslaan het nie. Wanneer ek wakker word, sal ek iets gaan soek wat ek kan drink.”