1Soek eerder na ’n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud.
2Vir mense, ryk en arm, is dit dieselfde: die Here het hulle almal gemaak.
3Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom en kruip weg. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor.
4Iemand wat nederig is en respek het vir die Here, kry rykdom, eer en lewe.
5Op ’n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle. Iemand wat omgee vir homself, bly ver daarvan weg.
6Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.
7Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen die slaaf van die man by wie hy leen.
8’n Geweldenaar wat onreg saai, sal teëspoed oes. Ook sy verdrukking van ander sal tot ’n einde kom.
9’n Vrygewige man wat van sy kos vir armes gee, sal geseën word.
10Jaag die spotter weg en saam met hom sal rusies padgee; die gestry en beledigings sal tot ’n einde kom.
11Wie graag opreg wil wees en mooi praat met ander, het selfs die koning as vriend.
12Die Here hou kennis in stand. Hy keer die woorde van die onbetroubare mens om.
13“Daar is ’n leeu daarbuite!” sê die luiaard. “Ek sal gevang word as ek dit buite waag!”
14’n Vreemde vrou se woorde is ’n bodemlose put; as die Here vir jou kwaad is, sal jy daarin val.
15Dwaasheid is eie aan ’n seun; ’n pak slae haal dit uit hom uit.
16Wie arm mense verontreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval.
17Gee aandag en luister baie goed na wat die wyse mense sê. Probeer verstaan wat ek jou wil leer.
18My onderrig sal goed wees as jy dit jou eie maak en dit kan gebruik.
19Vandag onderrig ek spesifiek vir jou sodat jy op die Here kan vertrou.
20Ek skryf 30 voorskrifte vir jou neer. Hulle is vol raad en kennis.
21Deur hulle sal jy in staat wees om die waarheid te herken en betroubaar verslag te doen aan die mense wat jou stuur.
22Moenie ’n arm mens uitbuit net omdat hy arm is nie. Moenie die hulpelose in hofsake uitbuit nie.
23Die Here sal hulle saak verdedig. Hy sal mense wat hulle beroof, weer van húlle lewe beroof.
24Moenie vriende maak met ’n humeurige mens nie. Bly ver weg van een wat ongeduldig is.
25Jy moenie dalk sy maniere by hom aanleer nie. Dit sal die oorsaak word van jou eie ondergang.
26Moenie borg staan vir iemand nie. Moenie instaan vir ander se skuld nie.
27As jy dit nie kan terugbetaal nie, sal hulle selfs jou bed onder jou wegvat.
28Moenie grensdrade verskuif wat jou voorouers opgerig het nie.
29Sien jy iemand wat bedrewe is in sy beroep? Hy werk vir konings en nie vir gewone mense nie.