1Die Here stuur die koning soos Hy wil. Dit is soos ’n stroom water wat Hy afkeer waarheen Hy wil.
2’n Mens dink dalk alles wat hy doen, is reg. Die Here besluit egter oor die bedoeling daaragter.
3Die Here hou meer daarvan dat iemand reg doen en regverdig optree as dat hy offers vir Hom bring.
4Hovaardige oë en hoogmoedige harte is ’n kenmerk van goddeloses, dit is hulle sonde.
5Getroue werk lewer wins op. Afskeepwerk lei tot gebrek.
6Skatte met leuens verwerf, beteken niks en bring net die dood.
7Die geweld van goddeloses sleur hulle mee. Hulle weier mos om te doen wat reg is.
8’n Skuldige mens loop kronkelpaaie. ’n Mens wat opreg is, loop ’n reguit pad.
9Dit is beter om op die hoek van ’n platdak te bly, as binne-in ’n huis saam met ’n vrou wat oor alles stry.
10’n Slegte mens wens ander net sleg toe. Hy het niks oor vir sy medemens nie.
11Wanneer jy iemand wat ander belaglik maak, laat boet vir sy dade, leer onervare mense wysheid daaruit. Wanneer jy iemand onderrig wat reeds wysheid het, leer hy nog meer daaruit.
12Die regverdige God sien wat gebeur in die huis van goddelose mense. Hy bring teëspoed oor die goddelose mense.
13Iemand wat sy ore toedruk vir die hulpkreet van ’n arme, sal self ook verniet roep as moeilikheid hom tref.
14’n Geskenk ongesiens gegee, koel die man wat kwaad is af. As ’n omkoopgeskenk onopsigtelik gegee word, laat dit driftige woede bedaar.
15Dit maak regverdige mense bly wanneer reg opgetree word. Dit maak dié wat kwaad doen, bang.
16As iemand wegdwaal van die verstandige weg, beland hy in die geselskap van die dooies.
17Wie agter plesier aan loop, word ’n arm mens. Wie lief is vir wyn en weelde, word nooit ryk nie.
18Soms word ’n slegte mens geruil vir een wat reg doen, en die onbetroubare mens vir die eerlike persoon.
19Dit is beter om iewers in die woestyn te gaan bly as saam met ’n stryerige vrou wat oor alles neul.
20In ’n wyse mens se huis is altyd kosbare besittings en uitgesoekte olie. ’n Dwase mens gebruik alles op wat hy in sy huis het.
21Iemand wat hom beywer vir reg en liefde, verkry ’n vol lewe, geregtigheid en eer.
22’n Wyse man kan ’n stad oorwin al is dit vol dapper soldate. Selfs die vesting waarop hulle vertrou, kan hy laat val.
23Wie ’n wag voor sy mond het en stilbly, hou homself uit die moeilikheid.
24Dis bekend dat ’n spotter hovaardig en aanmatigend is. Sy hovaardige optrede ken geen perke nie.
25Die begeertes van ’n lui mens lei na sy dood. Hy weier om sy hande uit sy moue te steek.
26Elke dag begeer hy net meer en meer. Die regverdige gee sonder om iets terug te hou.
27God verafsku die offers wat goddeloses bring, veral as hulle dit doen met allerlei bymotiewe.
28’n Vals getuie sal omkom. ’n Betroubare getuie se getuienis staan vas.
29’n Slegte mens maak asof hy dapper is. ’n Opregte mens oorweeg elke tree wat hy gee.
30Geen menslike wysheid, of insig, of besluit kan voor die Here bly staan nie.
31Perde kan afgerig word vir oorlog, maar die oorwinning kom net van die Here.