Proverbs 27NLV

1Moenie te veel praat oor wat môre kan gebeur nie. Jy weet glad nie wat môre gaan oplewer nie.

2Moenie jouself op die skouer klop nie. Laat iemand anders jou liewer prys.

3Dit is swaar om klip en sand aan te dra, dit is nog swaarder om die ergernis te verdra wat ’n dwaas jou veroorsaak.

4Woede kan wreed wees en toorn ’n onstuitbare vloed, maar teen jaloesie is daar geen verweer nie.

5’n Openlike bestraffing is beter as liefde wat onsigbaar bly.

6Die wonde veroorsaak deur iemand wat lief is vir jou is baie beter as die baie soene wat jou vyande jou wil gee.

7As jy genoeg geëet het, is heuning nie meer lekker nie. Wanneer iemand honger is, is selfs ’n bitter ding lekker.

8Iemand wat wegloop van sy huis af, is soos ’n voël wat sy nes verlaat.

9Eerlike raad van ’n vriend is so aangenaam soos parfuum en so heerlik soos wierook.

10Moenie jou rug draai op jou vriend of op iemand wat jou pa se vriend was nie. Wanneer jy moeilikheid het, hoef jy nie na jou broer se huis te gaan nie. ’n Buurman wat naby is, is baie meer werd as ’n broer wat ver is.

11As jy wys is, my seun, sal dit my gelukkig maak. Dan sal ek kan terugantwoord wanneer ek bespot word.

12’n Verstandige mens sien onheil kom en kruip daarvoor weg. Onverstandige mense loop oopoë daarin en betaal die prys daarvoor.

13Vat iemand se klere as hy borg staan vir ’n vreemdeling. Hou dit as pand wanneer hy borg staan vir ’n vreemde vrou.

14As iemand vroegoggend sy buurman luidrugtig môre-sê, kan dit lyk of hy hom eerder vervloek.

15’n Vrou wat aanhou neul, is soos ’n aanhoudende gedrup op ’n reëndag.

16Om haar te probeer stilkry, is net so goed as om die wind te laat ophou waai of olie te probeer vashou met jou hande.

17Yster slyp yster en so vorm vriende mekaar.

18Wie sy vyeboom versorg, eet van sy vrugte. Wie omsien na die belange van sy werkgewer, sal voordeel daaruit trek.

19Soos jou gesig weerkaats in water, so wys iemand se hart wat in hom aangaan.

20Die doderyk en die onderaardse diepte word nooit vol van dooie mense nie. So kry ’n mens se begeertes ook nooit ’n einde nie.

21’n Smeltkroes bepaal die gehalte van silwer, die vuuroond bepaal die suiwerheid van die goud. ’n Mens se waarde word bepaal deur wat mense van hom sê.

22Al sit jy ’n dwaas in ’n stampblok en al maal jy hom tussen die graankorrels in die meule, jy sal sy dwaasheid nooit uit hom kry nie.

23Jy moet goed weet hoe dit met jou kleinvee gaan, jy moet omsien na jou veetroppe.

24Rykdom is nie vir altyd nie; selfs ’n koning se kroon hou nie geslagte lank nie.

25As daar van ou gras hooi gemaak is, die gras weer begin uitloop, en die voer uit die berge ingebring is,

26sal die skape weer wol gee en die bokke verkoop word vir die prys van ’n stuk grond.

27Daar sal genoeg bokmelk wees om jou en jou gesin en ook nog jou slavinne te onderhou.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 27.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.