Proverbs 14NLV

1’n Verstandige vrou bevorder die belange van haar huis. ’n Dwase vrou is self verantwoordelik vir die agteruitgang van haar huis.

2Die persoon wat opreg lewe, het respek vir die Here. Die een wat draaie loop, het nie eerbied vir Hom nie.

3Die verwaande se woorde sny ’n lat vir homself. Die woorde van wyse mense beskerm hulle.

4As daar nie vee is nie, is die voerkrip wel skoon; maar sonder ’n sterk os is daar ook nie ’n oes nie.

5’n Betroubare getuie lieg nie. ’n Vals getuie loop oor van leuens.

6Al soek ’n spotter na wysheid, sal hy dit nooit kry nie. ’n Verstandige mens versamel maklik kennis.

7Vermy ’n dwase mens. By hom sal jy niks kan leer nie.

8Die wysheid van ’n verstandige mens leer hom om sy lewe te verstaan. Die dwaasheid van ’n dwase mens mislei hom.

9Dwase spot oor skuldoffers. Dié wat opreg lewe, ervaar versoening.

10Net ’n mens self verstaan die bitterheid in sy hart. Niemand anders kan sy vreugde voluit deel nie.

11Die goddelose se nageslag sterf almal uit. Die opregtes het ’n groot nageslag.

12Dit lyk dalk vir iemand of hy die regte ding doen; agterna kom dit uit dat dit na die dood gelei het.

13Lag kan hartseer wegsteek; as die vrolikheid verby is, bly die verdriet nog agter.

14’n Onbetroubare mens kry sy verdiende loon. ’n Goeie mens pluk die vrugte van sy goedheid.

15’n Dwaas glo alles wat hy hoor. ’n Verstandige mens oorweeg elke tree wat hy gee.

16’n Wyse persoon is versigtig, hy vermy die kwaad. ’n Dom mens is oorverseker en gaan maar net aan sonder om te dink.

17Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge. Almal haat ’n agterbakse mens.

18’n Dom mens ly onder sy eie dwaasheid. Verstandige mense word met kennis bekroon.

19Slegte mense moet buig voor goeie mense, en goddelose mense by die deur van regverdiges.

20’n Arm mens word verstoot, selfs deur sy buurman. ’n Ryk man het baie mooiweersvriende.

21Dit is sonde om jou buurman te verag. Geseënd is hulle wat die behoeftiges help.

22Iemand wat kwaad wil doen, verloor sy rigting. Iemand wat goeddoen, sal die liefde en lojaliteit van ander geniet.

23Inspanning bring voorspoed; ’n nuttelose gesit en praat bring gebrek.

24Wyse mense word met rykdom bekroon. Dwaasheid van dwase mense lei tot nog meer dwaasheid.

25’n Eerbare getuie red lewens, ’n vals getuie steek ander in die rug.

26Hy wat ontsag het vir die Here, geniet sekuriteit; sy kinders vind vastigheid by hom.

27Ontsag vir die Here is ’n bron van lewe; dit beskerm jou teen die strikke van die dood.

28’n Koning se aansien groei volgens die getal van sy onderdane; as die bevolking krimp, gaan hy te gronde.

29’n Geduldige mens het baie insig. Iemand wat kort van draad is, stal sy dwaasheid uit.

30Innerlike kalmte bevorder die gesondheid. Jaloesie vreet ’n mens op.

31Iemand wat ’n arm mens verdruk, beledig die Een wat hom gemaak het. Hy wat hom oor ’n arme ontferm, eer God.

32Die goddelose kom tot ’n val deur sy eie boosheid. Die regverdige het ’n toevlug wanneer hy doodgaan.

33Wysheid vloei voort uit ’n verstandige hart, ook as iemand tussen dwase beweeg, kom dit na vore.

34Regverdigheid maak ’n volk sterk. Sonde bring skande oor ’n volk.

35’n Koning het vreugde in bedrewe amptenare. Hy word kwaad vir een wat skande maak.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 14.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.