1’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ’n dwars antwoord laat woede opspring.
2Die woorde van wyse mense maak kennis aanloklik. Dwase mense borrel oor van dwase dinge.
3Die Here sien oral wat gebeur. Sowel slegte as goeie mense hou Hy dop.
4Vriendelike woorde bring lewe, bedrieglike woorde vernietig mense.
5’n Dwaas praat smalend oor wat sy pa hom leer, iemand wat hom laat reghelp, is verstandig.
6In die huis van regverdiges is daar skatte. Wat die goddelose inbring, bring vir hom moeilikheid.
7Wyse mense versprei kennis met wat hulle sê. Dwase mense kan dit nie doen nie.
8Die Here verafsku die offers van goddelose mense. Hy is bly oor die gebede van opregtes.
9Die Here verafsku die manier waarop goddelose mense leef. Hy het die mense lief wat volgens sy wil lewe.
10Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word. Hy wat berisping haat, sal sterf.
11Die Here weet wat gebeur in die doderyk en in die onderaardse dieptes. Hoeveel te meer weet Hy wat aangaan in mense se harte.
12’n Spotter hou nie van die persoon wat hom teregwys nie. Hy vra nie raad by ’n wyse nie.
13Blydskap laat ’n mens se gesig straal. Hartseer maak ’n mens terneergedruk.
14’n Verstandige mens soek ernstig na kennis. ’n Dwase mens teer op dwaasheid.
15Vir die bedrukte mens bring elke dag net probleme. Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees.
16Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam.
17Liewer net ’n skeppie groente saam met iemand vir wie jy lief is, as ’n lekker stuk beesvleis en haat daarmee saam.
18’n Humeurige mens sit twis aan die gang. ’n Verdraagsame mens sit ’n stryery stop.
19’n Luiaard se pad is met dorings besaai. ’n Opregte mens se pad is gelyk.
20’n Verstandige seun maak sy pa bly. ’n Dwase seun het geen respek vir sy ma nie.
21Iemand sonder verstand put vreugde uit sy dwaasheid. Iemand met insig bly op die regte pad.
22Sonder beplanning loop planne skeef. Sukses is afhanklik van baie raadgewers.
23Daar is vreugde daarin om die regte antwoord te hê. Wat is beter as die regte woord op die regte tyd?
24Die lewenspad van ’n verstandige mens loop boontoe. Dit stuur weg van die doderyk daar onder.
25Die Here vernietig die hoogmoedige se huis. Hy beskerm die grondgebied van die weduwee.
26Die Here verafsku slegte planne. Hy hou van skoon gedagtes.
27’n Gierigaard bring ongeluk oor sy huis. Wie omkoopgeskenke weier, sal lewe.
28’n Regverdige mens dink eers voor hy antwoord. By goddelose mense se monde borrel daar slegte dinge uit.
29Die Here luister nie na goddelose mense nie. Hy verhoor die gebed van die regverdige mens.
30Oë wat blink, bring vreugde. Goeie nuus bring gesondheid.
31Wie na kritiek luister, sal lewe. Jy sal tuis wees tussen mense met wysheid.
32Wie goedbedoelde raad ignoreer, doen skade aan homself. Iemand wat hom laat reghelp, ontwikkel sy insig.
33Om respek vir die Here te hê, leer ’n mens wysheid. Nederigheid kom eerste, daarna volg eer.