Proverbs 11NLV

1Die Here haat ’n skaal wat nie reg weeg nie. ’n Akkurate lesing dra sy goedkeuring weg.

2Verwaandheid bring vernedering. Nederigheid bring wysheid.

3Die opregtheid van eerlike mense wys vir hulle die koers. Die valsheid van onbetroubare mense bring hulle ondergang.

4Rykdom gaan niks help op die dag van oordeel nie. Om reg te lewe sal jou red van die dood.

5Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk. Die goddelose sal deur sy goddeloosheid inmekaarstort.

6Die betroubaarheid van eerlike mense sal hulle red. Onbetroubare mense se eie gierigheid sal hulle inhaal.

7’n Slegte mens gaan dood saam met alles wat hy begeer het. Sy verwagtings was net op sy eie mag gebou.

8God bevry die regverdige uit sy nood; Hy laat goddeloses in daardie nood verval.

9Goddeloses vernietig mense met hulle woorde. Dié wat reg lewe, word deur hulle kennis gered.

10’n Stad juig oor die voorspoed van die regverdiges. Dit jubel as goddelose mense te gronde gaan.

11As opregte mense ’n stad prys, bring dit voorspoed vir die stad. Die woorde van goddeloses laat dit agteruitgaan.

12Om neerhalend van ander te praat, getuig van dwaasheid. ’n Verstandige mens sal eerder stilbly.

13’n Geskinder lap geheime uit; betroubare mense bewaar geheime.

14Sonder goeie leiding stort ’n volk in duie; dit is veilig om baie raadgewers te hê.

15Dit is gevaarlik om vir ’n vreemdeling borg te staan; dit is veiliger om daarvoor nee te sê.

16’n Deugsame vrou verdien agting. Gewelddadiges jaag na rykdom.

17’n Mens wat vrygewig is, baat self daarby. ’n Wrede mens vernietig homself.

18Goddeloses word skynbaar gou ryk, maar dit hou nie. Die regverdige sal ’n beloning kry wat vir altyd hou.

19Lewe wag vir hulle wat regverdig is. Die dood wag vir hulle wat agter kwaad aan is.

20Die Here het ’n afsku aan agterbakse mense. Hy is lief vir mense wat onberispelik lewe.

21Slegte mense sal baie beslis nie loskom nie. Die nageslag van die regverdiges sal vrygespreek word.

22’n Mooi vrou sonder gesonde oordeel is soos ’n goue ring in ’n vark se snoet.

23Die regverdiges wens altyd vir die regte dinge. Waarvoor die goddeloses wag, bring net straf.

24Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm.

25Mense wat ’n ander iets gun, het self altyd oorvloed. Hulle wat ander se dors les, is self altyd verkwik.

26Mense vervloek selfsugtige mense wat weier om koring te verkoop. Hulle seën iemand wat bereid is om te verkoop.

27’n Persoon geniet aanvaarding as hy die goeie nastreef. Kwaad haal die een in wat daarop uit is.

28Iemand wat staatmaak op rykdom, kom juis tot ’n val. Iemand wat reg doen, floreer soos groen blare aan ’n boom.

29Die een wat in sy huis ongelukkigheid bring, sal naderhand die wind erf. ’n Onverstandige mens word die slaaf van iemand met wysheid.

30Iemand wat reg optree, is soos ’n vrugbare boom. ’n Mens wat wys is, red ander se lewens.

31As die regverdige hier op aarde kry wat hom toekom, sal ook die goddelose en die sondaar beslis kry wat hy verdien.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 11.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.