Proverbs 1NLV

1Hierdie is die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel.

2Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer en hulle te onderrig. Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan.

3Deur hierdie woorde sal hulle dissipline leer en weet hoe om regverdig, reg en billik op te tree.

4Iemand wat nog onervare is, sal verstandig word. Die spreuke sal jongmense kennis gee en onderskeidingsvermoë.

5Laat selfs hulle wat wys is, luister na die spreuke sodat hulle tot dieper insig kan kom. Wie reeds die nodige kennis het, kan die lewenskuns aanleer

6om die spreuke en sinspelings, die woorde en raaisels van wyse mense te begryp.

7Kennis begin met eerbied vir die Here, net dwase verag wysheid en dissipline.

8My seun, luister na wat jou pa jou leer. Moenie wat jou ma vir jou sê in die wind slaan nie.

9Wat jy by hulle leer, sal jou lewe met goedheid kroon en ’n versiering wees om jou nek.

10My seun, as goddelose mense jou wil ompraat, moenie na hulle luister nie.

11Hulle sal miskien vir jou sê: “Kom saam met ons! Kom ons gaan lê iemand voor en vermoor hom. Kom ons oorval iemand, al het hy niks aan ons gedoen nie.

12Ons wil hulle lewendig laat verdwyn, net soos in ’n graf, soos gesonde mense wat in die dood wegsink.

13Ons wil baie waardevolle dinge bekom, ons huise vol maak met alles wat ons buit.

14Word een van ons! Dan deel ons in die buit.”

15My seun, met hulle moet jy nie saamgaan nie. Bly ver van die pad waarop hulle loop.

16Hulle loop agter kwaad aan. Hulle kan skaars wag om iemand te vermoor.

17Wanneer ’n voël sien daar is vir hom ’n wip gestel, dan vlieg hy mos weg.

18Maar hierdie mense stel vir hulleself ’n hinderlaag op. Hulle soek self na hulle dood.

19So gaan dit met elkeen wat met geweld ryk wil word: sulke rykdom verwoes die lewe van die een wat dit verkry.

20Wysheid staan en roep op die straat. Op die stadspleine roep sy hardop.

21Sy roep by die plekke waar mense bymekaarkom. Sy praat by die ingange van die stadspoorte. Haar boodskap is:

22“Hoe lank gaan julle domkoppe nog bly klou aan julle domheid? Hoe lank gaan die spotters aanhou met hulle gepratery? Hoe lank gaan die swape kennis bly verwerp?

23“As julle reageer op my berisping, sal ek my gees op julle uitstort. Ek sal my woorde aan julle bekendmaak.

24Ek het na julle geroep, maar julle wou nie luister nie. Ek het my hand uitgesteek na julle, maar julle het dit nie gevat nie.

25My raad het julle geïgnoreer. Julle wou nie toelaat dat julle reggehelp word nie.

26Daarom gaan ek lag wanneer ongeluk julle tref. Ek gaan met julle spot wanneer angs julle oorval.

27Ek gaan vir julle lag wanneer angs soos ’n storm oor julle losbreek, wanneer benoudheid julle tref soos ’n stormwind en julle in swaarmoedigheid verval.

28Dan sal hulle na my begin roep om hulp, maar ek sal my nie daaraan steur nie. Hulle sal desperaat na my soek, maar hulle sal my nie vind nie.

29Van my kennis wou hulle mos niks weet nie. Respek vir die Here wou hulle mos nie betoon nie.

30Hulle het my raad geïgnoreer. Omdat ek hulle wou reghelp, het hulle my mos verag.

31Hulle sal moet sluk aan die gevolge van hulle optrede. Hulle sal maar moet saamleef met die gevolge van hulle eie dade.

32“Dwase draai van my af weg na die dood toe. Die gekke se dwaling kos hulle die dood. Deur hulle selfvoldaanheid word die dwase vernietig.

33Elkeen wat na my luister, sal veilig wees. Vir rampe hoef hy nie bang te wees nie.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Proverbs 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.