Nahum 3NLV

1Dit sal sleg gaan met Nineve, stad van moord en leuens. Vol met buit, maar roof sonder ophou.

2Swepe klap, wiele dreun! Perde jaag, strydwaens bokspring!

3Ruiters kom aangejaag, swaarde blink en spiese blits. Daar is baie dooies, hope liggame, en mense struikel oor tallose lyke.

4Nineve, die mooi en sedelose vrou, is die oorsaak hiervan, sy wat guns wen met haar betowering, wat volke verslaaf met haar onsedelikheid en families met haar toorkuns.

5Die Here, die Almagtige, sê: “Ek is jou vyand! Ek sal jou rokke bo-oor jou gesig oplig sodat die hele wêreld jou naaktheid en skande kan aanskou.

6Ek sal jou met mis besmeer en jou verneder. Ek sal ’n bespotting van jou maak.

7Almal wat jou sien, sal met afgryse wegdraai en sê: ‘Nineve lê heeltemal verwoes, maar wie gee om?’ Waar kry Ek iemand om jou te troos?”

8Is jy enigsins beter as Tebes, gevestig aan die Nyl, ’n stad omring met riviere, beskut met water aan alle kante?

9Hulle bron van krag was Etiopië en Egipte, wat gelyk het of hulle geen einde het nie. Put en Libië was hulle bondgenote.

10Nogtans is Tebes ingeneem en sy inwoners weggevoer as ballinge. Op die straathoeke is hulle babas doodgeslaan. Die lot is gewerp oor belangrike leiers, vernames is met kettings geboei.

11Nineve, ook jy sal slinger soos ’n dronkaard. Uit vrees vir die vyand sal jy soek na ’n skuiling, na ’n beskerming van die vyand.

12Al jou vestings is soos vyebome met die eerste ryp vye. Wanneer ’n mens die boom skud, val die vye in die mond van die eter.

13Kyk na jou soldate, hulle is so swak soos vroue. Jou landsgrense is wawyd oop vir jou vyand. Die sluitbalke van jou poorte is met vuur verbrand.

14Maak gereed vir die inval! Gaar water op, versterk jou vestings! Gaan staan in die kleiput, brei die klei! Versterk die steenvorms!

15Daar sal julle deur vuur verteer word, of deur die swaard sneuwel, soos sprinkane wat julle verorber. Vermeerder soos sprinkane, word baie soos treksprinkane!

16Jou stad is vol handelaars, talryk soos sterre in die hemel. Soos ’n swerm sprinkane stroop hulle die land en vlieg weg.

17Jou wagte is soos sprinkane, jou beamptes soos treksprinkane. Hulle drom saam op die klipmure om die koue te oorleef. Maar as die son opkom, vlieg hulle weg en niemand weet waarheen nie.

18Koning van Assirië, jou leiers sluimer, jou vername mense slaap. Jou volk is op die berge versprei, met niemand wat hulle versamel nie.

19Jou wond kan nie meer genees nie, jou siekte is noodlottig. Almal wat van jou ondergang hoor, klap hulle hande van blydskap. Want wie het nie onder jou wreedheid gely nie?

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Nahum 3.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.