Habakkuk 1NLV

1Die boodskap wat die profeet Habakuk in ’n visioen ontvang het.

2Here, hoe lank moet ek nog roep om hulp? U luister nie na my nie. “Geweld!” roep ek baie hard, maar U red my nie.

3Waarom laat U my die onreg en die ellende om my sien? Waar ek ook al kyk, sien ek vernietiging en geweld. Ek is omring deur mense wat daarvan hou om te stry en te baklei.

4Die wet het sy krag verloor en is onbruikbaar. Reg seëvier ook nie in die howe nie. Daar is baie meer goddelose mense as dié wat reg doen. Daarom is die regsuitsprake verdraaid.

5Die Here het geantwoord: “Kyk na die nasies en staan verbaas! Let op en staan verstom! Ek doen iets in jou leeftyd, iets wat jy nie sou glo as iemand anders jou dit vertel nie.

6Ek laat toe dat die Galdeërs die nuwe wêreldmag word. Hulle is wreed en gewelddadig, ’n nasie wat die wêreld deurkruis om ander se woonplekke af te neem.

7Hulle is bekend vir hulle verskriklike wreedheid. Hulle doen net wat hulle wil en niemand kan hulle keer nie.

8Hulle perde is vinniger as luiperds. Hulle is vurige mense, erger as wolwe teen skemeraand. Soos arende duik hulle neer op hulle prooi.

9“Hulle beur vorentoe, gereed vir geweld. Hulle leërs kom aangestorm soos ’n wind uit die woestyn. Hulle versamel krygsgevangenes soos sand.

10Hulle maak ’n bespotting van konings en lag regeerders uit. Al die vestings minag hulle. Teen die mure stapel hulle grondwalle op en neem die vestings in.

11Hulle swiep verby soos die wind, en verdwyn. Maar hulle is skuldig, hulle verafgod hulle eie krag.”

12O Here my God, my Heilige, U is daar van altyd af. Sekerlik is dit tog nie u plan om ons uit te wis nie! O Here, ons Rots, U het die Babiloniërs aangestel om ons te straf.

13U is te regverdig om onreg te duld. Maar is dit vir U moontlik om met gevoeligheid te sien hoe hulle ons verswelg? Is dit reg dat U stilbly terwyl goddeloses dié verslind wat meer regverdig is as hulle?

14Is ons maar soos visse wat gevang en doodgemaak word? Is ons soos kruipende insekte, sonder iemand om hulle te lei?

15Moet ons aan hoeke gevang en met nette uitgetrek word? Hulle versamel ons met sleepnette en juig daaroor.

16Hulle bring offers vir hulle nette en brand wierook ter ere van hulle. Hulle sê: “Die nette laat ons in weelde leef en voorsien ons van volop kos!”

17Gaan U toelaat dat hulle altyd hiermee wegkom? Gaan hulle vir altyd suksesvol wees met hulle gevoellose oorwinnings?

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Habakkuk 1.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.