1Die boodskap wat volg, het Nahum in ’n visioen ontvang. Nahum was van Elkos afkomstig.
2Die Here is ’n God wat absolute lojaliteit vra. Hy is vol wraak en woede. Hy wreek Hom op al sy teenstanders en vernietig sy vyande.
3Die Here word stadig kwaad, maar sy krag is groot. Hy laat skuldiges nie ongestraf nie. Hy kom in warrelwinde en storms, wolke is die stof onder sy voete.
4Hy beveel, en oseane en riviere droog op, die groen weivelde van Basan en Karmel verdroog, die botsels van Libanon verdor.
5Berge skud in sy teenwoordigheid en die heuwels smelt weg. Hy laat die aarde bewe, so ook die wêreld en die mense wat dit bewoon.
6Wie is bestand teen sy woede? Wie sal die gloed van sy toorn oorleef? Sy woede brand soos ’n vuur. Rotse verkrummel voor Hom tot stof.
7Die Here is goed. In tye van nood is Hy ’n veilige vesting. Hy beskerm elke mens wat op Hom vertrou.
8Maar Hy tref dié wat teen Hom in opstand kom soos ’n vloedgolf. Hy agtervolg sy vyande die donkerte in.
9Hoekom beraam julle planne teen die Here? Hy sal dit op niks laat uitloop nie. Daar sal nie weer so ’n bedreiging kom nie.
10Sy vyande is soos vervlegte dorings, soos slingerende dronkaards. Maar Hy sal hulle soos droë strooi verbrand.
11Wie is hierdie koning van julle wat durf waag om bose planne teen die Here te beraam?
12Die Here sê: “Selfs al het Assiriërs baie bondgenote, hulle sal vernietig word en van die toneel af verdwyn. My volk, Ek het julle alreeds tevore gestraf, maar Ek sal dit nie weer doen nie.
13Ek breek nou die juk wat julle onderdruk en bevry julle van hulle oorheersing.”
14Dit sê die Here vir die Assiriërs: “Julle sal nie kinders hê wat julle name laat voortleef nie. Al die beelde in julle afgodstempels sal Ek vernietig. Ek berei ’n graf vir julle voor, want julle is afstootlik en verdien nie om te leef nie!”
15Kyk! ’n Boodskapper met goeie nuus kom oor die berge! Hy bring ’n boodskap van vrede. Mense van Juda, vier julle feeste, betaal julle geloftes. Julle vyande is verslaan! Hulle sal julle land nooit weer binneval nie.