Bible

Transform

Your Worship Experience with Great Ease

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Micah 7

:
Afrikaans - NLV
1 Dit gaan ellendig met my! Ek voel soos iemand in ’n vrugteboord nadat die oes al afgepluk is. Daar het nie ’n trossie druiwe of ’n enkele vy oorgebly wat my honger kan stil nie.
2 Al die gelowige mense het verdwyn. ’n Mens kry nie meer eerlike mense nie. Hulle is almal moordenaars, hulle stel vernietigende strikke vir hulle eie mense.
3 Hulle hande staan vir niks verkeerd as dit by verkeerd doen kom nie. Die amptenare eis omkoopgeld net soos die regters. Mense in belangrike posisies maak hulle wense bekend, sweer met hulle saam en verdraai dan die reg.
4 Die bestes onder hulle is soos ’n gifplant, die eerlikstes soos ’n bos met gevaarlike dorings. Maar die dag van afrekening is baie naby. Dit sal ’n tyd van groot chaos wees.
5 Tel jou woorde! Moet niemand vertrou nie, nie eers ’n beste vriend of selfs jou vrou of man nie.
6 ’n Seun sal sy pa verag. ’n Dogter sal opstandig wees teen haar ma en ’n skoondogter teen haar skoonma. Jou vyande sal in jou eie huis wees!
7 Ek, daarenteen, sien met verwagting uit na wat die Here gaan doen. Ek wag in vertroue dat God my moet red. My God sal my verseker verhoor!
8 My vyande, julle moenie julle oor my verlekker nie! Ek het geval, maar ek sal weer opstaan. Al sit ek nou in duisternis, die Here is ’n lig vir my.
9 Ek sal die straf van die Here verduur, want ek het teen Hom gesondig. As dit eers verby is, sal Hy my saak opneem teen my vyande. Hy sal reg aan my laat geskied. Hy sal weer lig in my lewe bring en ek sal sy regverdigheid sien.
10 Dan sal my vyande sien dat Hy aan my kant is. Hulle sal skaam kry omdat hulle my gespot het deur te sê: “Waar is die Here jou God?” Ek sal toekyk terwyl hulle soos modder op die strate vertrap word.
11 Israel, daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle julle stede sal herbou en julle grense sal uitbrei.
12 In dié tyd sal mense van verskillende lande kom om eer aan julle te bring. Hulle sal van Assirië af kom tot by Matsor in Egipte, van Matsor af tot by die Eufraat, van see tot see en van berg tot berg.
13 Maar die aarde sal leeg en verlate wees as gevolg van wat die inwoners gedoen het.
14 Kom lei u volk soos ’n herder, die kudde wat aan U behoort! Hulle wei alleen in ’n bos in Karmel. Laat hulle weer soos vroeër wei tot in Basan en Gilead.
15 “Ek sal hulle weer wonders laat sien soos toe Ek hulle uit Egipte uitgelei het.”
16 Die nasies van die wêreld sal verbaas staan oor wat die Here vir julle sal doen. Hulle sal skaam kry oor hulle kragteloosheid. Hulle sal stomverbaas staan, hulle ore sal doof word.
17 Die volke sal dan besef dat hulle nikswerd is. Hulle sal soos slange oor die grond seil, soos kruipende gediertes op die aarde. Hulle sal bewend uit hulle skuilings na die Here ons God toe kom, bevrees en bang vir sy teenwoordigheid.
18 Wie is ’n God soos U? U vergewe sonde en straf nie die sonde of die oortredings van hulle wat oorgebly het nie. U bly nie vir altyd kwaad nie, maar is liefdevol en getrou.
19 U sal weer medelye met ons. U sal ons sonde onder u voete vertrap, dit weggooi in die diepte van die see!
20 Reeds lank gelede het U aan ons voorvaders, Jakob en Abraham, u trou en liefde met ’n eed belowe. Betoon dit nou ook aan ons.