1Job het weer gepraat:
2“As my hartseer geweeg kon word en my moeilikheid op ’n skaal gesit word,
3sou dit swaarder weeg as al die sand van die see. Daarom het ek blindweg gepraat.
4Want die Almagtige het my met sy pyle getref. Sy gifpyle het ingedring tot diep in my gees. Al die verskrikkinge van God is teen my gerig.
5Wildedonkies balk as hulle geen groen gras kry nie, en beeste bulk as daar nie voer is nie.
6Eet ’n mens smaaklose kos sonder sout, of iets so smaakloos soos die wit van ’n eier?
7My eetlus verdwyn as ek dit sien. Ek word naar as ek dit moet eet.
8Ag, as my versoek maar toegestaan word dat God sal gee waarvoor ek hoop!
9As Hy my maar wil uitwis, sy hand uitsteek en my vernietig,
10dan sou dit my troos wees: dat ek ten spyte van my pyn ook vreugde sal hê dat ek die woorde van die Heilige nie ontken het nie.
11“Ek het nie die krag om aan te gaan nie. Ek het geen doel om voor te lewe nie.
12Is ek so sterk soos klip, en is my lyf van brons gemaak?
13Nee, ek is hulpeloos. Daar is geen kans dat ek kan slaag nie.
14“’n Mens sou medelye hê met ’n vriend in nood, selfs as hy die vrees vir die Almagtige laat vaar.
15My vriend, jy is so onbetroubaar soos ’n spruit wat in die lente sy walle oorstroom,
16vol met ys en sneeu wat smelt.
17Maar die water droog op in die hitte en die spruit verdwyn wanneer dit warm word.
18Reisigers draai af na die spruit vir lafenis, en hulle sterf in die woestyn waarheen hulle afgedraai het.
19Met groot verwagting kom reisigers van Tema en Skeba op soek na water.
20Maar hulle kry niks al het hulle daarop vertrou. Hulle hoop is beskaam toe hulle daar gekom het.
21Net so kon julle my ook nie help nie. Julle het my ellende gesien, en bang geword.
22Hoekom? Het ek ooit van julle ’n geskenk verwag? Het ek ooit by julle gesmeek dat julle iemand met julle geld vir my moes omkoop?
23Het ek van julle verwag om my van die vyand te red? Het ek gevra dat julle my verlos van my verdrukkers?
24“Leer my en dan sal ek stilbly. Sê my net: Wat het ek verkeerd gedoen?
25Eerlike kritiek kan wel seermaak, maar julle argumente bewys niks!
26Dink julle dat julle woorde oorreed as julle nie eens my wanhoop kan hoor nie?
27Julle dobbel oor die toekoms van ’n weeskind. Julle sal selfs julle vriend vir geld verkoop.
28“Kyk na my! Sal ek in julle gesigte vir julle lieg?
29Besin julle, moenie onreg pleeg nie. Besin julle, my onskuld is op die spel.
30Dink julle ek lieg? Ken ek nie die verskil tussen reg en verkeerd nie?”