1Elihu het verder gesê:
2“Dink jy dit is reg om te sê: ‘Ek is regverdig voor God’?
3Tog het jy ook gevra: ‘Wat help dit om reg te lewe? Wat kan dit my baat om nie te sondig nie?’
4“Ek sal jou en al jou vriende antwoord.
5Kyk op in die lug, sien die wolke hoog bokant jou raak.
6As jy sondig, hoe raak dit Hom? Selfs as jy aanhou om weer en weer sonde te doen, wat doen dit aan Hom?
7Of as jy reg optree, wat beteken dit vir Hom? Wat kan jy vir Hom gee?
8Jou sondes raak net die mense soos jy en jou goeie dade beïnvloed net ander mense.
9“Mense roep om hulp onder hulle swaar verdrukking. Hulle kreun onder die mag van die sterkes.
10Tog vra hulle nie: ‘Waar is God, ons Maker, die Een wat ons ’n lied laat sing in die nag?
11Waar is Hy wat ons meer geleer het as vir die diere en ons slimmer gemaak het as die voëls?’
12Mense roep om hulp en Hy antwoord nie weens hulle boosheid en hoogmoed.
13Maar dit is verkeerd om te sê God luister nie, die Almagtige gee nie om nie.
14Dit is nog meer vals om te sê Hy sien nie wat aangaan nie. Hy sal geregtigheid laat geskied as jy net sal wag.
15Maar roep jy uit teen Hom omdat Hy nie in woede reageer op sondaars nie en nie weet van boosheid nie?
16Job, jy het tevergeefs geprotesteer. Jy het gepraat soos ’n dwaas.”