1Elihu het gesê:
2“Luister na my, julle wyse mans. Gee aandag, julle wat baie kennis het.
3Net soos die mond goeie kos proe, so toets die oor die woorde.
4Daarom, laat ons vir onsself onderskei wat reg is; laat ons saam leer wat goed is.
5“Job het gesê: ‘Ek is onskuldig, maar God het my regte weggeneem.
6Ek is onskuldig, maar hulle noem my ’n leuenaar. My lyding is ongeneeslik, al het ek nie gesondig nie.’
7Was daar al ooit iemand so verwaand soos Job, met sy dors na lasterlike praatjies?
8Hy soek die geselskap op van bose mense. Hy bestee sy tyd met kwaaddoeners.
9Hy het selfs gesê: ‘Ek mors my tyd om God tevrede te stel.’
10“Luister na my, julle wat verstand het! Almal weet dat God nie sondig nie. Die Almagtige doen niks verkeerd nie.
11Hy vergeld mense volgens hulle dade. Hy behandel mense volgens hulle optrede.
12Dis ondenkbaar dat God die verkeerde sou doen. Die Almagtige kan nie die reg verdraai nie.
13Wie het die aarde aan God se sorg toevertrou? Wie het Hom aangestel oor die hele wêreld?
14As Hy sy Gees wegneem en sy asem onttrek,
15hou alle lewe op om te bestaan. Mense word dan stof.
16“As jy enige verstand het, luister dan hierna. Hoor wat ek sê.
17Sou God kon regeer as Hy regverdigheid haat? Kan jy waag om die almagtige Regter te veroordeel?
18Want Hy sê aan konings: ‘Julle is boos!’ en aan vername mense: ‘Julle is onregverdig.’
19Dit maak nie vir Hom saak hoe belangrik jy is nie. Hy kies ook nie tussen ryk en arm nie. Hy het hulle almal gemaak.
20Hulle sterf in ’n oomblik teen middernag. Die sterkstes word verwyder sonder dat iemand iets daaraan kan doen.
21“Hy kyk na hoe mense leef; Hy sien alles wat hulle doen.
22Die kwaaddoener kan in geen donker plek, hoe donker ook al, vir Hom wegkruip nie.
23Dit is nie vir ’n mens om te besluit wanneer hy in God se oordeel kom nie.
24Hy vernietig sterk mense sonder om iemand te vra en stel ander aan in hulle plek.
25Hy kyk wat hulle doen. In die nag keer Hy hulle om en vernietig hulle.
26Hy straf hulle vir hulle slegte dade waar almal dit kan sien.
27Hulle het mos opgehou om Hom te volg. Hulle het hulle nie aan Hom gesteur nie.
28Deur hulle toedoen moes die armes na Hom roep om hulp. En God het dit gehoor. Ja, Hy hoor altyd die noodroep van mense.
29Wanneer Hy stilbly, wie kan Hom kritiseer? As Hy Hom verberg, wie kan Hom sien? Hy besluit oor volke en mense.
30Hy sorg dat ’n goddelose nie oor mense regeer en hulle in ’n valstrik lei nie.
31“Hoekom sê mense nie vir God: ‘Ek het gesondig, maar ek sal nie weer sondig nie’?
32Of: ‘Ek weet nie wat ek verkeerd gedoen het nie. Sê vir my sodat ek daarmee kan ophou.’
33Moet God optree volgens jou eise omdat jy weier om jou te bekeer? Jý moet kies, nie ek nie. Deel jou wysheid met ons!
34“Mense met begrip verklaar, wyse mense wat my hoor, sê vir my:
35‘Job praat sonder kennis. Sy woorde is sonder insig.’
36Job, jy verdien die swaarste straf vir jou bose praatjies.
37Want nou het jy by al jou ander sondes ook opstand en godslastering daarby gevoeg.”