1“Luister na my woorde, Job! Hoor alles wat ek wil sê!
2Ek het nou begin, laat my praat.
3Ek praat in opregtheid, ek het die waarheid in my mond.
4Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige gee my lewe.
5Antwoord my dan, as jy kan! Berei jou voor en stel jou standpunt.
6Kyk, ek en jy is dieselfde voor God. Ek is ook van stof gemaak.
7Daarom hoef jy nie vir my bang te wees nie. Ek gaan nie hard op jou afkom nie.
8“Ek het na jou geluister, ek het elke woord gehoor wat jy gesê het.
9Jy sê: ‘Ek is rein, sonder sonde, ek is onskuldig, ek het nie gesondig nie.
10God soek skoor met my. Hy beskou my as sy vyand.
11Hy sit my voete in die blok. Elke tree van my hou Hy dop.’
12“Ek sê vir jou jy is verkeerd. Jy het self gesê: ‘God is groter as ’n mens.’
13Nou, waarom bring jy dan ’n klag teen Hom? Jy sê: ‘Hy luister nie na mense nie.’
14Maar God praat op verskillende maniere. Ons kom dit net nie agter nie.
15Hy praat deur drome en visioene, in die nag wanneer mense diep slaap en op hulle beddens lê.
16Hy fluister in hulle ore en verskrik hulle met sy waarskuwings.
17Hy laat mense van gedagte verander om hulle van verkeerde dade weg te hou, en hulle van hoogmoed te weerhou.
18Hy red hulle van die graf, van die diep rivier van die dood.
19Soms praat Hy met mense deur ernstige siekte op ’n siekbed, as pyn aan hulle liggaam knaag.
20Dan verloor mense hulle eetlus. Die lekkerste kos walg hulle.
21Hulle is later net vel en been.
22Hulle staan met die een voet in die graf. Die dood wag vir hulle.
23“Maar as ’n hemelse boodskapper, ’n baie unieke een, intree vir so ’n persoon en hom regverdig verklaar,
24sal God hom genadig wees en sê: ‘Laat hom vry. Moenie dat hy sterf nie, want Ek het ’n losprys gevind vir sy lewe.’
25Dan word sy liggaam weer so gesond soos dié van ’n kind, ferm en jeugdig soos toe hy jonk was.
26As hy bid tot God, sal Hy hom aanvaar. God sal hom met vreugde ontvang, en hom ’n mens maak wat reg lewe.
27Hy sal vir sy vriende sê: ‘Ek het gesondig en verkeerd gedoen, maar God het my nie gestraf soos wat ek verdien het nie.
28God het my gered van die graf, en nou is my lewe gevul met lig.’
29“Ja, God doen al hierdie dinge vir mense, weer en weer.
30Hy red hulle van die graf sodat hulle mag lewe in die lig van die lewendes.
31“Luister mooi, Job. Luister na my. Bly stil en laat my nog praat.
32As jy my kan antwoord, praat dan. Ek sou jou graag gelyk wou gee dat jy geregverdig is.
33As jy niks het om te sê nie, luister dan na my. Ek sal vir jou wysheid leer.”