Job 29
1 Job het die gesprek voortgesit:
2 “Ek verlang na die ou jare, na die tyd toe God vir my gesorg het,
3 toe Hy die pad voor my oë verlig het sodat ek veilig in die donkerte kon loop.
4 In my vroegste jare was God ’n vriend in my huis.
5 Die Almagtige was nog by my en my kinders was om my.
6 In daardie dae het my koeie oorvloedig melk gegee en daar het strome olie uit my olyfboorde gevloei.
7 “Ek het na die stadspoort toe gegaan om tussen die geëerde leiers te gaan sit.
8 Jongmense het padgegee as ek aankom. Selfs bejaardes het opgestaan uit respek vir my.
9 Die leiers het stilgebly en in stilte bly staan met die hand op die mond.
10 Die belangrikste amptenare van die stad het eenkant stil gestaan en uit respek vir my stilgebly.
11 Almal wat van my gehoor het, het my geprys. Dié wat my gesien het, het goed van my gepraat.
12 Want ek het die armes gehelp in hulle nood, en die weeskind wat niemand gehad het om hom te help nie.
13 Ek het mense gehelp wat alle hoop verloor het, en hulle het my geseën. Ek het ’n lied gebring in die harte van weduwees.
14 Wat ek ook al gedoen het, was regverdig en opreg. Regverdigheid was oor my soos ’n kleed en reg het my hoof bedek.
15 Ek was soos oë vir die blindes en voete vir dié wat verlam is.
16 Ek was ’n vader vir die armes en het gesorg dat die vreemdeling regverdig verhoor word.
17 Ek het die greep van wettelose verdrukkers verbreek en hulle gevangenes uit hulle mag vrygestel.
18 “Ek het gedink: ‘Ek sal tog sekerlik sterf, deur my familie omring, na ’n lang en goeie lewe.
19 Want ek is soos ’n boom wat by waters staan, en wat elke môre met dou verfris word.
20 Ek ontvang gedurig eerbewyse, en my krag word elke dag vernuwe.’
21 “Elkeen luister na my en waardeer my raad. Hulle wag in stilte vir my om te praat.
22 Wanneer ek gepraat het, kon hulle niks byvoeg nie, want hulle was tevrede met my raad.
23 Hulle het gewag vir my om te praat, soos ’n mens wag op reën. My woorde was vir hulle soos ’n fris lentereën.
24 Wanneer hulle moedeloos was, het ek hulle met ’n glimlag bemoedig. Wanneer ek met goedkeuring na hulle kyk, was dit vir hulle kosbaar.
25 Ek was soos hulle leier wat hulle op die regte pad lei. Ek was soos ’n koning tussen sy manskappe, en soos iemand wat die treurendes vertroos.”