1“Mense weet hoe om silwer te myn en goud te suiwer.
2Hulle weet hoe om yster uit die grond te haal en koper te smelt uit klip.
3Hulle weet hoe om lig te maak in die donker en verken die verste, donkerste dele van die aarde op soek na erts.
4Hulle sink ’n mynskag diep in die aarde, ver van waar mense woon. Dan swaai hulle heen en weer aan toue.
5Die aarde waaruit brood voortkom, word diep onder oopgebreek met vuur.
6Mense kan saffiere uit die rots en goudstof uit die stof haal.
7Dit is skatte wat geen roofvoël kan sien nie, en geen arendsoog kan bespeur nie.
8In diep myne het geen wilde dier nog gekom, geen leeu het daar geloop nie.
9Mense weet hoe om rotse te breek en die wortels van berge om te keer.
10Hulle maak tonnels in die rotse en kry daar kosbare skatte.
11Hulle dam strome op en bring verborge skatte na die lig.
12“Maar weet mense waar om wysheid te vind? Waar sal hulle soek vir begrip?
13Niemand weet waar om dit te vind nie. Nêrens tussen die lewendes is dit te vind nie.
14‘Dis nie hier nie,’ sê die oseaan. ‘Dis ook nie by my nie!’ sê die see.
15Jy kan dit nie met goud koop nie, jy kan nie silwer daarvoor afweeg nie.
16Die waarde daarvan is meer as al die goud van Ofir, en groter as die kosbare stene van oniks of saffiere.
17Wysheid is meer kosbaar as goud en kristal. Jy kan dit nie koop met goud-gemonteerde juwele nie.
18Koraal en kosbare kristal kan dit nie betaal nie. Wysheid het meer waarde as pêrels.
19Topaas uit Etiopië* kan nie daarvoor ingeruil word nie, want die waarde daarvan is meer as die suiwerste goud.
20Maar weet mense waar om wysheid te vind? Waar kan hulle insig kry?
21Dit is weggesteek. Geen lewende wese kan dit sien nie. Selfs die voëls in die lug kan dit nie bespeur nie.
22Maar Verwoesting en Dood sê: ‘Ons het ’n gerug gehoor waar jy wysheid kan kry.’
23God ken die weg daarheen, Hy alleen weet waar dit te vind is,
24want Hy kyk oor die hele aarde en sien alles onder die ganse hemel.
25Hy laat die winde waai en Hy bepaal hoeveel reën moet val.
26Hy maak die wette van die reën, en berei ’n pad vir die weerlig.
27Nadat Hy dit alles gedoen het, het Hy wysheid gesien en dit afgemeet. Hy het dit gevestig en deeglik getoets.
28Dit is wat Hy vir die mensdom sê: ‘Om die Here te dien is ware wysheid. Om die kwaad te vermy is ware insig.’”