1Job het die gesprek voortgesit:
2“So seker as wat God leef, Hy wat my regte van my weggeneem het, die Almagtige wat my verbitter het,
3solank ek leef, solank God my laat asemhaal,
4sal ek niks verkeerds sê nie. Ek sal nie leuens vertel nie.
5Daarom kan ek nooit erken dat julle reg is nie. Tot ek sterf, sal ek my onskuld verdedig.
6Ek hou vol dat ek onskuldig is. My gewete is skoon solank ek leef.
7“Mag my vyande gestraf word soos die kwaaddoeners, my teenstander soos bose mense.
8Want watter hoop het die goddelose mens wanneer God hom afsny en sy lewe wegneem?
9Sal God luister na hom wanneer ’n ramp hom tref?
10Kan hy hom verlustig in die Almagtige? Kan hy enige tyd na God roep?
11“Laat ek julle iets vertel oor God se mag. Ek sal niks verswyg oor die Almagtige nie.
12Maar dis ook nie nodig nie, want julle het alles self gesien. Tog hou julle aan om hierdie nuttelose goed vir my te sê.
13“Dit is wat die kwaaddoeners van God gaan ontvang, dit is hulle erfdeel van die Almagtige.
14Al hulle baie kinders sal sterf in die oorlog of doodgaan van honger.
15Dié wat oorleef, sal deur die pes na hulle graf toe gaan. Niemand sal oor hulle treur nie, nie eens hulle vroue nie.
16Bose mense besit dalk al die geld in die wêreld en kan berge van klere opgaar,
17maar die regverdige sal die klere dra, en die onskuldiges sal die geld tussen hulle verdeel.
18Die huise van bose mense is broos soos ’n spinnerak, so wankelrig soos ’n skuiling van takke.
19Die kwaaddoener gaan slaap in rykdom, maar sal dit nie behou nie. Hy ontwaak in armoede.
20Angs oorweldig hulle soos ’n vloed en die storm waai hulle weg in die nag.
21Die oostewind waai hulle ver weg, en hulle is nie meer nie.
22Sonder genade kom die wind op hulle af. Hulle probeer wegkom van die storm se geweld.
23Almal is bly oor hulle ondergang en spot met hulle.”