1“Waarom het die Almagtige nie ’n dag van afrekening vir die kwaaddoener nie? Waarom wag die regverdige tevergeefs op Hom?
2Bose mense steel grond deur grenslyne te verskuif. Hulle steel skape en laat hulle wei op hulle eie weiveld.
3Hulle vat selfs donkies van die weeskind. Hulle vat die weduwee se bees as borg.
4Hulle druk die armes uit die pad. Die behoeftiges in die land moet vir hulle wegkruip.
5Die armes moet soos wildedonkies in die woestyn sukkel om liggaam en siel aan mekaar te hou. Hulle soek kos in die woestyn vir hulle en hulle kinders.
6Hulle versamel veevoer op ’n ander se landerye en oes oorskiettrossies in die wingerde van die kwaaddoener.
7Snags lê hulle sonder klere in die koue, sonder iets om hulle toe te maak.
8Hulle is deurweek deur reën uit die berge en bondel almal saam teen die rotse vir skuiling.
9Weeskinders word weggeruk van die bors waaraan hulle drink. Die baba van die arme word as borg vir skuld geneem.
10Armes loop kaal, sonder klere. Hulle dra kos aan vir ander, terwyl hulle self honger ly.
11Hulle pars olyfolie, sonder om self daarvan te proe, hulle trap die wynpers, terwyl hulle self dors is.
12“Die gekerm van sterwendes klink op uit die stad, en die gewondes roep om hulp, maar God steur Hom nie aan die skreiende onreg nie.
13“Kwaaddoeners kom in opstand teen die lig. Hulle wil niks te doen hê met wat in die lig gebeur nie. Hulle loop nie op sy pad nie.
14Moordenaars staan op voor dagbreek om die arme en behoeftige dood te maak. In die nag is hy ’n dief.
15Die egbreker wag tot dit skemer is, want hy sê: ‘Niemand sal my nou sien nie.’ Hy dra ’n masker sodat niemand hom herken nie.
16In die nag breek hulle in by huise; in die dag slaap hulle. Hulle wil niks weet van die lig nie.
17Vir hulle is die donker soos die oggend. Hulle is bondgenote met die verskrikking van die duisternis.
18“Maar hulle sal van die aarde verdwyn, so vinnig soos skuim wat deur ’n rivier weggevoer word. Alles wat hulle besit, is vervloek sodat niemand meer in hulle wingerde kom nie.
19Soos droogte en hitte sneeu laat smelt, so word sondaars deur die dood verteer.
20Selfs hulle ma’s vergeet van hulle. Hulle is kos vir die wurms. Niemand wil hulle onthou nie. Bose mense breek in stukke soos ’n boom in ’n storm.
21Hulle het die kinderlose vrou uitgebuit. Hulle weier om weduwees te help.
22God sleep die sterkes weg deur sy mag. Al is hulle gevestig, hulle het geen sekerheid in die lewe nie.
23God laat hulle miskien veilig woon, maar Hy hou hulle altyd goed dop.
24Al word hulle vir ’n tydjie baie belangrik, hulle sal almal vergaan. Soos al die ander mense word hulle bymekaargemaak en soos koring afgesny.
25“Is dit nie so nie? Wie kan my verkeerd bewys en my woorde ignoreer?”