Job 21
1 Job het weer gepraat:
2 “Luister goed na wat ek sê. Julle vertroos my al klaar as julle dit doen.
3 Verdra my en laat my praat. As ek klaar is, kan julle my spot!
4 “Ek kla God aan, nie mense nie. Daarom is ek so ongeduldig!
5 Kyk na my en staan verstom. Hou jou hand oor jou mond van skok.
6 As ek dink aan wat ek kwytraak, bewe ek. My hele lyf bewe.
7 Die waarheid is: goddeloses word stokoud! Hulle word ryk en beroemd.
8 Hulle sien hoe hulle kinders volwassenheid bereik, en geniet hulle kleinkinders.
9 Hulle huise is veilig; daar is niks wat hulle vrees nie. God straf hulle ook nie.
10 Hulle bulle dek al die koeie. Hulle koeie kalf en het geen misgeboorte nie.
11 Hulle kinders spring vrolik rond soos lammetjies, hulle dans oral rond.
12 Hulle sing saam met tamboeryn en lier. Hulle is vrolik terwyl die fluit speel.
13 Hulle leef in voorspoed en gaan na die graf in vrede
14 en dit terwyl hulle vir God sê: ‘Gaan weg! Ons wil niks met U te doen hê nie.
15 Wie is die Almagtige dat ons Hom sou gehoorsaam? Watter nut is daarin om tot Hom te bid?’
16 Maar hulle voorspoed hang nie af van hulleself nie. Daarom kan ek nie saamstem met hoe hulle dink oor die lewe nie.
17 “Die lewenslig van die goddelose word egter nooit gedoof nie. Hulle kry selde swaar. As God oordeel uitdeel, gaan Hy by hulle verby.
18 Die wind jaag hulle nie soos strooi rond nie. En die stormwind doen niks aan hulle nie.
19 ‘Ja,’ sê jy, ‘God sal dan hulle kinders straf!’ Ek meen God behoort dié wat sondig, te straf, en nie hulle kinders nie. Laat húlle self die straf uitdien!
20 Laat hulle self sien hoe hulle vernietig word. Laat hulle diep drink van die woede van die Almagtige!
21 Na hulle dood skeel dit hulle min wat met hulle families gebeur, wanneer hulle eers dood is.
22 “Maar wie is daar wat vir God kan onderrig? Hy is immers die Regter oor al die belangrike mense.
23 Een mens sterf in die fleur van sy lewe in voorspoed en veiligheid,
24 die prentjie van blakende gesondheid, sterk en fris.
25 ’n Ander mens sterf in uiterste armoede. Hy het nooit iets goeds in die lewe beleef nie.
26 Albei word begrawe in dieselfde grond, albei word deur wurms opgevreet.
27 “Kyk, ek weet wat julle dink. Ek weet van die planne wat julle teen my smee.
28 Julle wil my vertel van ryk en bose mense wie se huise verdwyn het as gevolg van hulle sondes.
29 Vra vir die mense wat baie reis. Hulle sal julle die waarheid vertel:
30 Bose mense kom nie in moeilikheid nie. Hulle word toegelaat om aan rampe te ontsnap.
31 Niemand wys hulle openlik tereg nie. Niemand vergeld hulle vir hulle wandade nie.
32 Op pad na hulle graf staan ’n lang erewag.
33 Al wat leef, kom na hulle begrafnis om respek te betoon terwyl hulle rustig lê onder die grond.
34 “Hoe kan julle my vertroos met leë woorde? Al julle redenasies is vals!”