1Job het weer gepraat:
2“Hoe lank gaan julle my nog martel? Hoe lank gaan julle nog probeer om my te verpletter met julle woorde?
3Tien keer het julle nou bedoel om my te verneder. Julle kan julle skaam om so ongevoelig teenoor my te wees.
4Selfs al het ek gesondig, is dit my saak, nie julle s’n nie.
5Julle probeer my oorweldig deur my vernedering te gebruik as bewys van my sonde.
6Maar dit is God wat kwaad aan my doen, want ek is soos ’n beleërde stad.
7“Ek roep hard om hulp, maar niemand hoor my nie. Ek skreeu, maar daar is geen geregtigheid nie.
8God het my pad versper, ek kan nie beweeg nie. Hy het dit donker op my weë gemaak.
9Hy het my gestroop van my eer en my kroon van my kop verwyder.
10Hy breek my af van alle kante. Dis klaar met my. Hy vernietig my hoop soos ’n ontwortelde boom.
11Sy toorn brand teen my. Hy beskou my as sy vyand.
12Sy soldate kom op my af en bou paaie om my aan te val. Hulle slaan kamp op rondom my tent.
13“My broers bly ver weg, my vriende het teen my gedraai.
14My familie is ver weg, my bure het my vergeet.
15My gaste en diensmeisies beskou my as ’n vreemdeling. Ek is soos ’n uitlander vir hulle.
16Ek roep my bediende, maar hy kom nie, selfs al smeek ek hom hardop!
17My asem is aanstootlik vir my vrou. Ek is walglik vir my eie familie.
18Selfs jong kinders verag my. As ek opstaan om iets te sê, draai hulle die rug op my.
19My naaste vriende het ’n afsku aan my. Dié wat ek liefhet, het teen my gedraai.
20Ek is nog net vel en been. Ek het die dood net-net vrygespring.
21“Bejammer my tog, my vriende, wees tog jammer vir my! Want die hand van God het my getref.
22Waarom vervolg julle my ook soos wat God doen? Is dit nie genoeg vir julle dat ek so ly nie?
23“Ag, dat al my woorde neergeskryf sou word; dat dit gegraveer sal word op ’n monument,
24uitgekap met ’n ysterbeitel, en gevul met lood, vir altyd gegraveer in ’n rots.
25Maar ek, ek weet dat my Verlosser leef, en dat Hy aan die einde op die aarde sal staan.
26Nadat my liggaam vergaan het, sal ek persoonlik God sien!
27Ek sal Hom self sien. Ja, ek sal Hom sien met my eie oë. Dié gedagte oorweldig my!
28“Hoe durf julle dan aanhou om my te vervolg deur te sê: ‘Dis sy eie skuld dat hy so swaarkry.’
29Ek waarsku julle: Julle is self in gevaar om gestraf te word vir julle gesindheid. Daardie dag sal julle weet dat reg gaan geskied!”