1“My gees is gebreek, my dae word kort. Die graf wag vir my.
2Spotters omring my. Ek sien hoe hulle my tart.
3“Verdedig my onskuld, o God, want niemand anders kom op vir my nie!
4U sluit hulle verstand vir begrip. Laat hulle nie triomfeer nie.
5Hulle verraai hulle vriende tot hulle eie voordeel, maar hulle eie kinders vergaan van ellende.
6“God maak ’n bespotting van my tussen die mense. Hulle spoeg my in die gesig.
7My oë is dof gehuil, en ek is net maar ’n skadu van my ou self.
8Die opregtes is geskok as hulle my sien. Die onskuldiges kom in opstand teen die goddelose mense.
9Die regverdiges se pad loop reguit vooruit, dié met ’n opregte hand sal sterker en sterker word.
10“Kom probeer julle nou maar weer! Ek kon nie ’n enkele mens met insig onder julle kry nie.
11My dae is verby. My planne het verdwyn. My hartsbegeertes is gebreek.
12Hierdie mense maak van die nag dag, hulle sê in die donker dat die lig naby is.
13Eintlik wil ek maar net sterf. Ek wil in die nag van die graf gaan rus.
14Die graf is my pa, en die wurm my ma en my suster.
15Maar waar is my hoop dan? Kan iemand dit vind?
16Nee, my hoop gaan saam met my na die graf. Saam sal ons rus in die stof.”