Job 15NLV

1Elifas die Temaniet het geantwoord:

2“Jy is mos ’n wyse man en tog praat jy betekenislose woorde. Jy is soos ’n sak vol wind!

3Dis verkeerd om so dwaas te praat. Sulke woorde bereik niks nie.

4Vrees jy God nie? Het jy geen ontsag vir Hom nie?

5Jou sondige gedagtes vertel jou mond wat om te sê. Jou woorde is misleidend.

6Maar hoekom sou ek jou veroordeel? Jou eie mond doen dit! Jou lippe getuig klaar dat jy skuldig is.

7“Is jy die eerste mens wat op aarde gebore is? Is jy gebore voor die berge gemaak is?

8Is jy lid van God se geheime raad? Behoort wysheid aan jou alleen?

9Wat weet jy wat ons nie weet nie? Wat snap jy wat ons nie ook verstaan nie?

10Tussen ons is daar ou manne met grys koppe. Party van ons is ouer as jou pa.

11Beteken dit vir jou so min dat God jou bemoedig? Is sy sagte woord nie genoeg nie?

12Wat het jou verstand gevange geneem? Wat het jou uitsig verdof,

13dat jy teen God draai met al hierdie bose dinge wat jy sê?

14“Kan ’n sterfling suiwer wees, iemand wat uit ’n vrou gebore is, regverdig?

15My wêreld! God vertrou nie eens die engele nie! Selfs die hemel kan nie suiwer wees in sy oë nie.

16Hoeveel minder suiwer is ’n korrupte mens vol sonde met ’n dors na boosheid?

17“As jy maar net na my wil luister, sal ek jou leer. Ek wil jou uit my ervaring iets vertel.

18Wat ek beleef het, was ook die ervaring van alle ander wyse mense. Ook hulle het hiervan gehoor by hulle voorvaders.

19Dit kom al uit die tyd toe die land aan hulle gegee is, nog voor daar vreemdelinge tussen hulle gebly het:

20Bose mense is lewenslank in pyn. Jare se moeite word gebêre vir die gewetenloses.

21Hulle word omring deur verskrikking, selfs in tye van vrede vrees hulle ’n aanval van die vernietiger.

22Hulle waag dit nie in die donker nie. Hulle is bang om vermoor te word.

23Hulle dwaal rond vir brood en sê: ‘Waar is dit?’ Hulle weet die dag van hulle ondergang is naby.

24Daardie donker dag verskrik hulle, dit oorweldig hulle soos ’n koning wat regmaak vir ’n aanval.

25Want hulle vuiste is teen God gebal om die Almagtige uit te daag.

26Agter hulle sterk skilde storm hulle uitdagend af op Hom.

27“Hierdie bose mense is vet en ryk. Hulle lewe in oorvloed.

28Maar hulle woon in stede wat verwoes sal word. Hulle sal in verlate huise bly wat wil inmekaarval.

29Hulle sal nie veel langer ryk wees nie. Hulle geld sal opraak sodat hulle nie meer oral in die land besittings sal hê nie.

30Hulle sal die donkerte nie kan ontsnap nie. Vuur sal hulle verteer en die asem van God sal hulle vernietig.

31Laat hulle nie langer op hulle skatte vertrou nie. Hulle bedrieg hulleself, want ydelheid is hulle beloning.

32Hulle sal sterf in die fleur van hulle lewe, en hulle sal wees soos ’n tak wat nooit weer groen sal word nie.

33Hulle is soos druiwestokke wat hulle trosse afgooi voor dit ryp is, soos ’n olyfboom wat sy bloeisels afgooi voor dit vrugte kan vorm.

34Die goddelose lewe is vrugteloos. Hulle huise, opgerig deur omkopery, sal deur vuur verteer word.

35Hulle bedink moeilikheid en kwaad. Hulle harte bring bedrog voort.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Job 15.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.