1Ag, ek wens my kop was soos ’n waterspruit, my oë soos ’n fontein vol trane. Dan sou ek dag en nag huil oor my mense wat geslag is.
2As ek maar net ’n herberg in die woestyn gehad het! Dan sou ek daarheen ontsnap en my mense agterlaat. Want my volk is niks anders nie as egbrekers en ’n klomp verraaiers.
3“Hulle span hulle tong soos ’n boog om leuens af te vuur. Hulle praat nie die waarheid nie. Die onreg wat hulle doen, raak net al hoe erger en erger. Hulle gee niks meer om vir My nie,” sê die Here.
4“Pas op vir jou vriende! Moenie jou familie of volksgenote vertrou nie! Hulle is almal rugstekers en versprei vals stories oor mekaar.
5Vriende lieg en bedrieg mekaar en praat nie die waarheid nie; hulle het hulle tonge geleer lieg. Hulle kan nie ophou sondig nie.
6Hulle hou net aan om leuen op leuen te vertel. Hulle weier om enigiets met My te doen te hê,” sê die Here.
7Daarom sê die Here, die Almagtige: “Ek sal hulle in ’n smeltoond sit en hulle suiwer soos metaal. Eintlik laat my volk My geen ander keuse as om dit te doen nie.
8Hulle tonge is soos giftige pyle. Hulle praat baie vriendelik met hulle vriende, maar in hulle harte beplan hulle hulle ondergang.
9Behoort Ek hulle nie daaroor te straf nie?” vra die Here. “Behoort Ek My nie op ’n nasie soos hierdie te wreek nie?”
10Ek sal huil en kla oor die berge en die weivelde van die woestyn. Hulle is verlate, sonder enige teken van lewe. ’n Mens hoor ook nie meer die beeste bulk nie. Selfs die voëls het gevlug en die wilde diere is weg.
11“Ek sal Jerusalem maak tot ’n bouval. Dit sal ’n plek wees waar die jakkalse graag sal lê. Die dorpe van Juda sal spookdorpe wees, want niemand sal meer daar bly nie.”
12Is daar iemand wat genoeg insig het om te verstaan hoekom hierdie dinge gebeur? Vir wie het U onderrig sodat hy dit weer vir iemand anders kan verduidelik? Hoekom is hierdie land so erg verwoes dat niemand dit eers wil waag om daardeur te gaan nie?
13Die Here het geantwoord: “Dit is omdat my mense weier om my voorskrifte wat Ek vir hulle gegee het, te volg. Hulle weier om na My te luister en volgens my voorskrifte te lewe.
14Hulle is hardkoppige mense wat net doen wat hulle wil. Hulle het die Baäls aanbid soos hulle by hulle voorouers geleer het.”
15Luister wat die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Kyk! Ek sal hulle bitter kruie gee om te eet en gif om te drink.
16Ek sal hulle verstrooi onder die nasies wat nóg hulle nóg hulle voorouers geken het. Ek sal hulle met die swaard agtervolg totdat Ek hulle heeltemal uitgewis het.”
17Die Here, die Almagtige, sê: “Dink ’n bietjie na oor wat aan die gang is! Roep die vroue wat rouklaag om treurliedere te kom sing.
18“Maak gou en huil oor ons! Laat trane vloei uit julle oë.
19Want die geluid van rouklag word in Sion gehoor: ‘Verwoesting het ons getref! Ons is verneder, want ons moet die land verlaat, en ons huise het puinhope geword.’”
20Vroue, luister na die woorde van die Here. Hoor baie duidelik wat Hy sê. Leer julle dogters ’n treurlied, leer hulle om klaagliedere te sing.
21Want die dood het ons huise binnegekom deur die vensters. Kinders speel nie meer in die strate nie. Jongmense kom nie meer bymekaar op die stadspleine nie.
22Jy moet sê: Die Here sê: “Lyke sal oral soos mis op die oop velde lê. Dit sal lyk soos bondels graan wat afgeoes is. Niemand sal oorbly om hulle te begrawe nie.”
23Die Here sê: “Mense met insig moenie spog met hulle kennis nie. Sterk mense moenie grootpraat oor hulle krag nie. Ryk mense moenie roem in hulle rykdom nie.
24Laat hulle wat wil grootpraat, spog dat hulle My ken, en begryp dat Ek die Here is wat reg en regverdig is, wie se liefde onfeilbaar is, en dat dit ook die dinge is wat My bly maak. Ek, die Here, het dit gesê!”
25Die Here sê: “Die tyd breek aan wanneer Ek al die mense wat net uiterlik besny is, sal straf.
26Dit is die mense van Egipte, Edom, die Ammoniete, Moab en die woestynbewoners wat in afgeleë plekke woon. Want al hierdie volke is onbesnede. Selfs die hele huis van Israel is onbesnede van hart.”