Jeremiah 10NLV

1Luister na wat die Here vir julle sê, Israel!

2Die Here sê: “Moenie die praktyke van die nasies navolg nie. En moenie bang wees vir hulle voorspellings of vir tekens aan die hemel nie, al wek dit vrees by die nasies.

3Hulle gebruike is tevergeefs en dwaas. Hulle kap ’n boom af in ’n bos en ’n ambagsman maak daarvan ’n beeld.

4Hulle versier hierdie beeld met goud en silwer. Hulle spyker dit dan vas sodat dit nie omval nie.

5Hulle afgode is so hulpeloos soos ’n voëlverskrikker in ’n groentetuin! Hulle kan nie praat of loop nie, maar moet gedra word. Moenie bang wees vir sulke gode nie. Hulle kan niemand kwaad aandoen nie. Hulle kan ook niks goeds vir enigiemand doen nie.”

6Here, daar is niemand soos U nie! U is groot, u Naam dra gesag!

7Is daar iemand wat U nie sal vrees nie, Koning van al die volke? U alleen verdien eer! Daar is niemand op aarde of in enige koninkryk wat so verstandig soos U is nie.

8Mense wat afgode vereer, is dom en dwaas. Die goed wat hulle aanbid, is dan van hout!

9Hulle bring die fynste silwer uit Tarsis en suiwer goud uit Ufas en ’n handvaardige goudsmid maak ’n beeld. Vaardige kleremakers trek dan vir hierdie beeld klere van duur materiaal aan.

10Maar die Here is die enigste ware God, Hy is die God wat lewe. Hy sal vir altyd Koning bly! As Hy kwaad is, bewe die aarde. Die nasies is nie bestand teen sy woede nie.

11Sê vir mense wat die afgode aanbid: “Julle sogenaamde gode, wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie, sal van die aarde af verdwyn.”

12God het die aarde deur sy krag gemaak. Hy het die wêreld deur sy kennis laat ontstaan. Dit is deur sy insig dat die hemel uitgesprei lê.

13As Hy praat, kom die wolkmassa in oproer. Hy laat mistigheid opstyg vanaf die eindes van die aarde. Hy stuur ook weerlig saam met die reën, Hy laat die wind vry uit sy stoorkamers.

14In vergelyking met Hom is mense dom en sonder kennis! Hulle maak afgodsbeelde, maar die beelde bring hulle makers in die verleentheid, want hulle is vals, sonder enige lewe.

15Hulle is niks werd nie. Hulle is niks anders as leuens nie! Die tyd van hulle vernietiging sal kom.

16Maar die God van Israel is nie soos hierdie afgode nie! Hy is Skepper van alles wat bestaan, ook van Israel, sy besondere erfenis. Sy Naam is die Here, die Almagtige!

17“Vat julle goed om uit die land te gaan, want die beleg gaan begin!”

18sê die Here. “Ek gaan julle skielik uit julle land smyt. Ek gaan groot ellende oor julle laat kom. Dan sal julle my toorn ervaar.”

19My ellende is groot, my wonde is seer. Ek het gedink: Dié lyding sal ek maar moet verduur.

20My huis is weg en daar is niemand oor om my te help om dit te herbou nie. My kinders is weggevat, en ek sal hulle nooit weer sien nie.

21Ons leiers is onnosel. Hulle vra nie wat die Here van hulle verwag nie. Dit is waarom hulle misluk. En dis ook hoekom ons mense oral verstrooi is.

22Hoor julle, dit is die gedreun van die vyand se leërs wat uit die noorde op pad is. Hulle sal die dorpe van Juda verwoes. Die dorpe sal ’n lêplek wees vir jakkalse.

23Ek weet, Here, mense se lewens is nie hulle eie nie. Niemand het beheer oor wat met hulle gaan gebeur nie.

24Here, help my reg, maar werk sag met my. As U dit in woede doen, sal niks van my oorbly nie.

25Haal u woede liewer uit op ons vyande. Hulle steur hulle mos nie aan U nie. Hulle het ook nie respek vir U nie. Hulle het u volk Israel uitgeroei en die land verwoes.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 10.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.