Jeremiah 13NLV

1Die Here het vir my gesê: “Gaan koop vir jou ’n linnegordel en bind dit om jou heupe. Jy moet dit nie was nie.”

2Ek het die lap gaan koop soos die Here gesê het en dit om my heupe vasgebind.

3Toe het die Here weer vir my ’n boodskap gegee:

4“Vat nou die linnegordel wat jy dra en gaan na die Eufraatrivier toe. Steek dit in ’n skeur in een van die rotse weg.”

5Ek het toe na die Eufraat gegaan en dit weggesteek soos die Here my beveel het om te doen.

6Na ’n lang tyd verloop het, het die Here vir my gesê: “Gaan terug na die Eufraat toe en gaan haal die linnegordel wat Ek jou beveel het om weg te steek.”

7Ek het toe teruggegaan na die Eufraatrivier toe. Ek het die linnegordel uit die plek gehaal waar ek dit weggesteek het. Maar die lap het al stukkend geword en dit was onbruikbaar.

8Toe het die Here vir my verduidelik.

9Hy het gesê: “Dis hoe Ek die arrogansie van Juda en van Jerusalem sal laat wegvrot.

10Hierdie slegte volk sal nes hierdie linnegordel word. Hulle is niks werd nie! Hulle weier mos om na My te luister. Hulle is hardkoppig en doen net wat hulle wil. Hulle dien ander gode.

11Soos hierdie linnegordel om ’n mens se heupe span, so wou Ek gehad het moes Juda en Israel aan My gebind wees,” sê die Here. “My wens was dat hulle my volk sou wees, my roem en my heerlikheid, ’n eer vir My. Maar hulle wou nie gehoorsaam wees nie.

12“Praat met hulle en gee vir hulle hierdie boodskap. ‘Die Here, die God van Israel sê: Al die wynkruike sal vol wyn gemaak word.’ En hulle sal antwoord: ‘Natuurlik, jy hoef ons nie eens te vertel hoe voorspoedig ons gaan wees nie!’

13Dan moet jy vir hulle sê: ‘Nee, dit is wat die Here bedoel: Ek sal almal in hierdie land so verward maak dat hulle soos dronk mense sal lyk. Dit sluit die koning in wat nou op Dawid se troon regeer, en die priesters, profete en inwoners van Jerusalem.

14Ek sal hulle teen mekaar stukkend stamp, selfs ouers en kinders, sê die Here. Ek sal hulle nie spaar omdat Ek vir hulle jammer is of omdat Ek hulle genadig wil wees nie. Ek sal ook nie medelye met hulle hê nie. Ek gaan hulle vernietig.’”

15Luister, gee ’n bietjie aandag! Moenie so arrogant wees nie, want dit is die Here wat praat:

16Gee eer aan die Here julle God, voordat dit te laat is. Doen dit voordat Hy dit vir julle donker maak, want as dit skemer is, sal julle struikel en val op die donker berge. Julle sal wens dit word lig, maar Hy sal dit stikdonker maak.

17En as julle aanhou om ongehoorsaam te wees, sal ek eenkant staan en huil omdat julle so verwaand is. Ek sal bitterlik huil omdat hulle die kudde van die Here in ballingskap wegneem.

18Sê vir die koning en sy ma: “Gaan sit baie laag, in die stof, want julle pragtige kroon sal van julle koppe weggeneem word.”

19Die dorpe in die Negev sal hulle poorte sluit, en niemand sal dit kan oopsluit nie. En die mense van Juda sal as ballinge weggevoer word. Almal van hulle sal in ballingskap gaan.

20Sien julle vyand uit die noorde aankom. Wat het geword van die pragtige kudde wat Hy vir julle gegee het om op te pas?

21Hoe sal julle voel as Hy die mense wat vroeër julle bondgenote was, nou toelaat om oor julle te heers? Julle sal krul van pyn soos ’n vrou wat geboorte gee!

22Julle vra dalk hoekom al hierdie dinge met julle gebeur. Die vyand verneder julle en verkrag julle oor julle baie sondes.

23Kan Etiopiërs die kleur van hulle velle verander? Kan ’n luiperd sy kolle laat verdwyn? Dink julle miskien dat julle skielik kan begin goeie dinge doen nadat julle gewoond was om kwaad te doen?

24“Ek sal julle verstrooi net soos die wind wat uit die woestyn waai die kaf uit die koring oral versprei.

25Dit is wat Ek besluit het wat met julle moet gebeur,” sê die Here. “Dit is die deel wat Ek vir julle afgemeet het, want julle het My mos vergeet en op valse gode vertrou.

26Ek sal julle verneder soos iemand wat kaal staan voor ander mense.

27Ek het gesien hoe julle die afgode in die veld en op hoogtes dien. Ek het ook al die skandelike dinge gesien wat julle gedoen het om hulle guns te wen. Jerusalem, jy sal sekerlik tot niet gaan! Hoe lank sal dit neem voordat jy eendag weer vir My aanvaarbaar sal wees?”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 13.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.