Jeremiah 12NLV

1Here, U behandel my altyd regverdig as ek ’n klagte na U toe bring. Maar nou wil ek my saak stel: Hoekom gaan dit goed met slegte mense? En hoekom is oneerlike mense so gelukkig?

2U het hulle geplant en hulle wortels diep geanker; daarom groei hulle goed en dra hulle vrugte. Hulle praat graag oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie.

3Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is. U toets my ingesteldheid teenoor U. Sleep hierdie mense weg, net soos slagskape! Pas hulle op vir die slagtyd!

4Hoe lank moet hierdie land nog treur? Selfs die grasvelde het verdroog. Die diere en die voëls het ook verdwyn weens die sonde van die inwoners van die land. En tog sê hulle: “Die Here gaan niks doen nie!”

5“As jy moeg raak om teen mense te hardloop, hoe sal jy ooit teen perde kan meeding? As jy struikel en val in ’n land waar dit veilig is, wat sal jy doen in die digte bosse by die Jordaan?

6Jou broers, jou naby familie het jou verraai. Hulle is daarop uit om jou kwaad aan te doen. Moenie hulle vertrou nie, selfs nie as hulle vriendelik met jou praat nie.

7“Ek het my volk prysgegee, hulle wat my eiendom is. Ek het hulle wat Ek liefhet aan hulle vyande oorgegee.

8My eie volk het vir My gebrul soos ’n leeu in ’n bos. Daarom het Ek hulle behandel asof Ek hulle haat.

9Die volk wat Ek vir My gekies het, het só afstootlik vir My geword soos ’n aasvoël. En nou is húlle omring deur ander aasvoëls! Laat al die roofdiere kom sodat hulle hulle karkasse kan skoonvreet!

10Baie herders het my wingerd verniel, en my druiwe vertrap. Hulle het my vrugbare grond ’n verlate woesteny gemaak.

11Hulle het dit ’n woestyn gemaak wat verwoes voor My lê omdat niemand daarvoor omgee nie.

12Soldate kom oor die heuwels in die woestyn. Die swaard van die Here verteer mense van hoek tot kant. Niemand sal kan ontsnap nie.

13Hulle het koring gesaai, maar sal dorings oes. Hulle moeite was tevergeefs. Staan dan maar beskaam, sonder oes, want die gloeiende woede van die Here het julle getref.”

14Die Here sê: “Wat die buurvolke betref, hulle is sleg. Hulle probeer die erfenis wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Ek sal Juda uit hulle mag red.

15Maar nadat Ek al hierdie volke uit hulle lande weggeneem het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land, waar sy eiendom is, laat terugkom.

16Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar Ek verwag van hulle om die gewoontes van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer om ’n eed te sweer deur te sê: ‘So waar as die Here lewe.’ Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer.

17As enige van hierdie volke nie gehoorsaam wil wees nie, sal Ek hulle met wortel en tak uitroei. Die Here het dit gesê!”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Jeremiah 12.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.