Bible

Simplify

Your Church Tech & Streamline Your Worship

Try RisenMedia.io Today!

Click Here

Jeremiah 12

:
Afrikaans - NLV
1 Here, U behandel my altyd regverdig as ek ’n klagte na U toe bring. Maar nou wil ek my saak stel: Hoekom gaan dit goed met slegte mense? En hoekom is oneerlike mense so gelukkig?
2 U het hulle geplant en hulle wortels diep geanker; daarom groei hulle goed en dra hulle vrugte. Hulle praat graag oor U, maar hulle bedoel nie ’n woord daarvan nie.
3 Maar U ken my, Here. U sien my net soos ek is. U toets my ingesteldheid teenoor U. Sleep hierdie mense weg, net soos slagskape! Pas hulle op vir die slagtyd!
4 Hoe lank moet hierdie land nog treur? Selfs die grasvelde het verdroog. Die diere en die voëls het ook verdwyn weens die sonde van die inwoners van die land. En tog hulle: “Die Here gaan niks doen nie!”
5 “As jy moeg raak om teen mense te hardloop, hoe sal jy ooit teen perde kan meeding? As jy struikel en val in ’n land waar dit veilig is, wat sal jy doen in die digte bosse by die Jordaan?
6 Jou broers, jou naby familie het jou verraai. Hulle is daarop uit om jou kwaad aan te doen. Moenie hulle vertrou nie, selfs nie as hulle vriendelik met jou praat nie.
7 “Ek het my volk prysgegee, hulle wat my eiendom is. Ek het hulle wat Ek liefhet aan hulle vyande oorgegee.
8 My eie volk het vir My gebrul soos ’n leeu in ’n bos. Daarom het Ek hulle behandel asof Ek hulle haat.
9 Die volk wat Ek vir My gekies het, het afstootlik vir My geword soos ’n aasvoël. En nou is húlle omring deur ander aasvoëls! Laat al die roofdiere kom sodat hulle hulle karkasse kan skoonvreet!
10 Baie herders het my wingerd verniel, en my druiwe vertrap. Hulle het my vrugbare grond ’n verlate woesteny gemaak.
11 Hulle het dit ’n woestyn gemaak wat verwoes voor My omdat niemand daarvoor omgee nie.
12 Soldate kom oor die heuwels in die woestyn. Die swaard van die Here verteer mense van hoek tot kant. Niemand sal kan ontsnap nie.
13 Hulle het koring gesaai, maar sal dorings oes. Hulle moeite was tevergeefs. Staan dan maar beskaam, sonder oes, want die gloeiende woede van die Here het julle getref.”
14 Die Here sê: “Wat die buurvolke betref, hulle is sleg. Hulle probeer die erfenis wat Ek vir my volk Israel gegee het, in die hande kry. Ek sal hierdie buurvolke uit hulle lande wegvat. Ek sal Juda uit hulle mag red.
15 Maar nadat Ek al hierdie volke uit hulle lande weggeneem het, sal Ek hulle weer jammer kry. Ek sal elke volk na sy eie land, waar sy eiendom is, laat terugkom.
16 Hierdie volke kan saam met my volk kom bly in die land wat Ek vir hulle gegee het. Maar Ek verwag van hulle om die gewoontes van my volk aan te leer. Verder moet hulle ook leer om ’n eed te sweer deur te sê: ‘So waar as die Here lewe.’ Vroeër het hulle my volk geleer om Baäl se naam te gebruik as hulle sweer.
17 As enige van hierdie volke nie gehoorsaam wil wees nie, sal Ek hulle met wortel en tak uitroei. Die Here het dit gesê!”