1Dit is die boodskap wat die Here vir Jeremia oor die droogte gegee het:
2“Juda verdor, sy besighede speel bankrot. Sy mense rou oor die land, en uit Jerusalem klink ’n hulpgeroep.
3Die vername mense stuur hulle diensknegte om water te gaan haal, maar die putte is droog. Hulle kom met leë houers terug. Hulle maak hulle koppe toe, dronkgeslaan en moedeloos.
4Omdat dit nie gereën het nie, bars die grond. Die boere is ontsteld en maak hulle koppe toe.
5Selfs die wildsbokooi gooi haar lammetjie weg omdat daar nie gras is nie.
6Die wildedonkies staan op die kaal bulte en snuif die lug soos jakkalse wat dors is. Hulle oë verdof, want daar is nie gras om te eet nie.”
7“Here, ons sondes het ons nou ingehaal. Help ons ter wille van u eie reputasie. Ons het baie keer teen U gesondig.
8U is Israel se enigste hoop, ons Verlosser in krisistye! Hoekom is U ’n vreemdeling vir ons? Hoekom is U soos iemand wat reis deur die land en net ’n nag oorslaap?
9Hoekom tree U op soos iemand wat verward is, soos ’n soldaat wat ons nie kan help nie? Maar U, Here, is mos by ons. Ons is immers u volk. Moet ons tog nie aan ons lot oorlaat nie!”
10Die Here het sy volk soos volg geantwoord: “Julle hou mos daarvan om van My af te dwaal. Daarom aanvaar Ek julle nie meer as my volk nie. Ek sal nou al julle boosheid onthou en julle straf vir julle sondes.”
11Die Here het vir my gesê: “Moenie meer vir hierdie volk bid dat dit met hulle goed moet gaan nie.
12Selfs al vas hulle, sal Ek My nie aan hulle geroep steur nie. En al bring hulle ook brandoffers en graanoffers vir My, sal Ek dit nie aanvaar nie. Ek sal met hulle klaarspeel deur oorloë, hongersnood en siekte op hulle pad te bring.”
13Maar toe sê ek: “Oppermagtige Here, hulle profete sê vir hulle: ‘Julle sal nie oorlog of hongersnood beleef nie. Die Here sal verseker vir julle vrede bring.’”
14Die Here het toe vir my gesê: “Hierdie profete vertel leuens in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie. Nog minder het Ek hulle opdrag gegee om met julle te praat. Wat hulle sien, is vals en wat hulle van God bekendmaak, is niks werd nie. Dit is ’n spul leuens wat hulle self uitdink.
15Daarom sê die Here oor die profete: Ek sal die profete wat kamtig namens My praat, straf. Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle sê mos dat daar nie oorlog of hongersnood in hierdie land sal kom nie. Hulle sal egter self in oorlog of van honger doodgaan!
16Die mense vir wie hulle profeteer, se lyke sal oral in die strate van Jerusalem lê. Mans, vroue en kinders sal slagoffers wees van hongersnood of van oorlog. Niemand sal oorleef om hulle te begrawe nie. Ek bring hulle eie oortredings oor hulle.
17“Jeremia, sê vir hulle: ‘Dag en nag loop trane uit my oë. Ek kan nie ophou huil nie. Want my volk is soos ’n jong meisie wat swaar gewond is en besig is om dood te bloei.
18As ek in die veld kom, sien ek oral mense lê wat gewelddadig gesterf het. Al wat ek sien as ek in die strate van die stad loop, is mense wat van honger gesterf het. Die profete en priesters gaan aan met hulle werk, maar hulle weet nie wat hulle doen nie.’”
19Het U Juda nou totaal verwerp? Haat U werklik vir Jerusalem? Waarom het U ons so verwond dat niemand ons gesond kan maak nie? Ons het vrede verwag, maar daar was geen vrede nie. Ons het gehoop op genesing, maar verskrikking het gekom.
20Here, ons bely ons verkeerde dinge wat ons en ons voorouers gedoen het! Ons het teenoor U gesondig.
21Ek vra dat U, ter wille van Uself, ons nie sal verwerp nie. Moenie dat daar skade kom aan u roemryke troon nie. Moenie u verbond met ons verbreek nie. Moenie ons vergeet nie.
22Kan enige van die vreemde afgode vir ons reën gee? Val die reën sommer vanself uit die hemel? Nee, dit kom van U af, Here, ons God! Dit is net U wat sulke dinge kan doen. Ons sal wag tot U ons help.