Isaiah 63
1 Wie is dit wat kom uit Edom, uit Bosra, met bloedrooi klere aan? Wie kom met die pragtige klere aan terwyl Hy met groot krag voortmarsjeer? “Dit is Ek, die Here, wat sê dat Ek julle red. Ek is sterk genoeg om te red!”
2 Waarom is u klere so rooi soos dié van iemand wat die wynpers getrap het?
3 “Ek het alleen die wynpers getrap. Daar was niemand van die volke wat My gehelp het nie. In my woede het Ek my vyande vernietig. In my wraak het Ek hulle vertrap. Hulle bloed het op my klere gespat, en so my klere rooi gemaak.
4 Want die tyd het gekom om my volk te verlos, om hulle van hulle vyande los te koop.
5 Ek het gekyk, maar daar was niemand om my volk te help nie. Ek was ontsteld omdat daar niemand was wat kom help het nie. Daarom het Ek alleen wraak geneem, sonder enige hulp het Ek die oordeel uitgespreek.
6 Ek het die volke in my woede vertrap. Ek het hulle laat steier van woede. Ek het hulle bloed oor die grond laat vloei.”
7 Ek sal vertel van die goedheid van die Here, sy roemryke dade wat Hy verrig het, ja, die talle goeie dinge wat Hy gedoen het: sy goedheid vir Israel, en alles wat Hy in genade en liefde gedoen het.
8 Hy het gesê: “Hulle is my eie volk. Hulle sal nie weer ontrou aan My word nie.” So het Hy hulle Redder geword.
9 In al hulle nood het Hy saam met hulle gely. Hy was die engel wat hulle toe gered het. In sy liefde en genade het Hy hulle gered. Hy het hulle opgetel en gedra soos in die ou dae.
10 Maar hulle het in opstand gekom en sy Heilige Gees bedroef. Daarom het Hy hulle vyand geword en self teen hulle geveg.
11 Toe het sy volk onthou van die tyd van Moses. Hulle het uitgeroep: “Waar is die Een wat Israel deur die see gelei het met Moses as hulle herder? Waar is die Een wat sy Gees van heiligheid gestuur het om tussen sy volk te wees?
12 Waar is die Een wat met sy magtige arm aan Moses se regterkant geloop het? Waar is die Een wat die waters voor sy volk oopgekloof het en vir Hom ’n ewige Naam gemaak het?
13 Waar is die Een wat sy volk deur die diep waters gelei het? Soos ’n perd in ’n woestyn het hulle nie gestruikel nie!
14 Soos ’n trop beeste wat afstap na die vallei, so het die Gees van die Here sy volk rusplek gegee, so het U u volk gelei om die roem van u Naam te vermeerder.”
15 Kyk af uit die hemel en sien ons tog raak van waar U sit, op u heilige en verhewe troon. Waar is u ywer van voorheen, u magtige dade? U weerhou u ontferming en genade van ons.
16 U is mos nog ons Vader! Selfs as Abraham en Israel ons nie wil erken nie, bly U steeds ons Vader, Here. U is van altyd af ons Redder.
17 Here, hoekom het U toegelaat dat ons afdraai van u paaie? Hoekom het U ons hardkoppig gemaak sodat ons U nie gedien het nie? Keer tog terug want ons is u dienaars, u spesiale besitting.
18 Vir ’n kort tyd kon u heilige volk u tempel besit. Maar nou het ons vyande dit verwoes.
19 Ons het geword soos mense oor wie U nog nooit regeer het nie. Hoekom tree U op asof ons nog nooit bekend was as u volk nie?