Isaiah 64
1 As U maar die hemel wou laat oopskeur en afkom! Hoe sal die berge nie bewe in u teenwoordigheid nie!
2 Kom soos ’n vuur wat hout laat brand en water laat kook, kom tog en maak Uself bekend aan u vyande. Dan sal die nasies voor U bewe!
3 Toe U lank gelede afgekom het, het U ontsagwekkende dinge gedoen, wat ons nie verwag het nie, en die berge het voor U gebewe.
4 Vandat die wêreld gemaak is, het geen oor gehoor of oog ’n God gesien soos U, wat doen wat U doen vir dié wat op U vertrou nie.
5 U help mense wat met blydskap doen wat U beveel, wat u weë onthou. Maar ons het aangehou om verkeerd te doen. U was kwaad vir ons. Hoe kan ons ooit gered word?
6 Voor U het ons almal geword soos iemand wat onrein is. Ons beste dade is soos vuil klere, soos verskrompelde blare. Deur ons sondes waai die wind ons weg.
7 Niemand roep na U om hulp nie, niemand soek sy sterkte in U nie. U het u gesig vir ons verberg, U laat ons vergaan onder die las van ons sondes.
8 Tog, Here, is U ons Vader. Ons is soos klei en U is die Pottebakker. Deur u hand is ons almal gevorm.
9 Here, moet tog nie kwaad wees vir ons nie. Moenie ons sondes vir altyd teen ons hou nie. Ons bid tot U: Sien ons tog raak. Ons almal is tog u volk!
10 U heilige stad het ’n woestyn geword. Sion is ’n woesteny, Jerusalem is soos ’n verlate woestyn.
11 Ons heilige en glorieryke tempel waar ons voorouers U aanbid het, is afgebrand. Alles wat vir ons kosbaar was, is vernietig.
12 Raak die dinge U dan nie, Here? Gaan U doodstil bly? Sal U aanhou om ons te laat ly, ons te kasty bo ons vermoëns?