Isaiah 62NLV

1Omdat ek Sion liefhet en na Jerusalem verlang, kan ek nie stilbly nie. Ek sal nie ophou om vir die stad te bid nie totdat daar vir haar geregtigheid kom soos ’n nuwe dag, en haar redding soos ’n fakkel brand.

2Die nasies sal jou redding sien, en die konings sal jou eer aanskou. Jy sal ’n nuwe naam kry wat die Here self vir jou gekies het.

3Die Here sal jou soos ’n kroon in sy hand hou, ’n koning se kroon in die hand van jou God.

4Hulle sal jou nie meer die Verstoteling noem nie en jou land nie meer die Verlatene nie. Jy sal genoem word: “Een wat Ek liefhet” en jou land: “My Bruid.” Die Here het jou lief, en jou land behoort aan Hom.

5Soos ’n jong man met ’n meisie trou, so sal jou kinders vir jou sorg. En soos ’n bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God bly wees oor jou.

6Ek het wagte op jou mure gesit, Jerusalem. Hulle sal dag en nag bid. Julle wat die Here herinner aan sy beloftes, moenie rus nie.

7Moenie die Here met rus laat nie, totdat Hy Jerusalem herstel het, en die hele wêreld die stad se lof besing.

8Die Here het vir Jerusalem gesweer by sy eie mag: “Ek sal nooit weer jou koring as kos vir jou vyande gee nie. Nooit weer sal vreemde soldate die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie.

9Dié wat die koring oes, sal dit ook eet en die Here loof. Dié wat druiwe pluk, sal self die wyn drink in die voorhof van my heiligdom.”

10Gaan uit, gaan uit deur die poorte, maak die grootpad gereed vir my volk wat terugkom! Maak die pad reg! Bou dit op! Bou die grootpad! Rol weg die klippe! Steek ’n vaandel in die lug sodat al die volke dit kan sien!

11Die Here maak ’n aankondiging oor die hele aarde: “Sê vir Sion: Jou Redder kom! Kyk, sy beloning is by Hom.”

12Hulle sal genoem word: “Die heilige volk, die volk wat deur die Here gered is.” Jerusalem, jy sal genoem word: “Die begeerlike stad, die stad wat nie meer verlate is nie.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 62.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.