Isaiah 45
1 So sê die Here vir Kores, sy gesalfde wie se regterhand Ek gevat het om nasies aan hom te onderwerp, konings se wapens af te vat en deure voor hom oop te maak wat nie weer gesluit sal word nie:
2 “Ek sal voor jou uitgaan en berge gelyk maak. Ek breek bronsdeure oop en slaan ystertralies stukkend.
3 Ek gee vir jou skatte wat weggesteek is in die donker, rykdomme opgesluit in geheime plekke. Ek doen dit sodat jy kan erken dat Ek die Here is, die God van Israel, wat jou by jou naam roep
4 ter wille van Jakob my dienaar, van Israel wat Ek gekies het. Ek het jou op jou naam geroep en skryf jou hoog aan, alhoewel jy My nie eens ken nie.
5 Ek is die Here en daar is geen ander nie. Daar is geen ander God as Ek nie. Ek maak jou sterk, al erken jy My nie eens nie.
6 Dan sal die wêreld van die ooste tot by die weste weet daar is geen ander God as Ek nie. Ek is die Here, en daar is geen ander God nie.
7 Ek maak die lig en skep die donkerte. Ek gee voorspoed en stuur slegte tye. Ek, die Here, is die Een wat al hierdie dinge doen.
8 “Laat die wolke regverdigheid reën. En laat die aarde oopgaan om dit te ontvang en die vrug van redding oplewer sodat regverdigheid daaruit kan voortspruit. Ek, die Here, het hierdie dinge gemaak.
9 Ellende wag vir hom wat sy Skepper verwyt, ’n potskerf tussen potskerwe. Kan die kleipot vir sy maker sê: ‘Wat maak jy?’ Kan jou handewerk vir jou sê: ‘Hy kan nie sy hande gebruik nie’?
10 Ellende wag vir hom wat vir sy pa sê: ‘Waarom het u ’n kind verwek?’ Of vir ’n vrou: ‘Hoekom het julle ’n kind in die wêreld gebring?’”
11 Die Here, die Heilige en die Skepper van Israel, reageer so daarop: “Betwyfel julle wat Ek doen? Sê julle vir My wat Ek moet doen?
12 Ek het die aarde gemaak en mense geskep om daarop te lewe. Met my eie twee hande het Ek die hemel uitgestrek. Al die miljoene sterre staan onder my bevel.
13 Ek het Kores opgeroep om reg te doen. Ek self maak ’n pad waarop hy sal loop. Hy sal my stad herstel, en my ballinge bevry. Hy sal nie beloon word vir wat hy doen nie, sê die Here, die Almagtige.”
14 So sê die Here: “Die produkte van Egipte, en die handelsware van Kus, ook die lang mense van Seba sal na jou toe kom. Hulle sal agter jou loop en jou gevangenes wees. Hulle sal voor jou buig en teenoor jou bely en sê: ‘God is verseker met jou! Daar is geen ander God nie. Hy is die enigste God!’”
15 Waarlik, U is ’n God wat Uself verberg, God en Redder van Israel!
16 Mense wat afgodsbeelde maak, sal verneder word en in die skande kom.
17 Maar die Here sal Israel vir altyd red. Hulle sal nooit weer verneder word of in die skande kom nie.
18 So sê die Here, Hy wat die hemel geskep het, Hy is God wat die aarde gevorm en gemaak het. Hy het dit gevestig. Hy het dit nie gedoen om leeg te wees nie, maar om bewoon te word. “Ek is die Here,” sê Hy. “Daar is niemand anders nie.
19 Ek het nie in die geheim gepraat, êrens in ’n donker land nie. Ek het nie vir die afstammelinge van Jakob beveel om vir My iets te vra wat Ek nie beplan om vir hulle te gee nie. Ek, die Here, praat die waarheid. Ek sê wat reg is.
20 “Kom almal vir ’n vergadering bymekaar, julle almal uit die nasies wat rondhardloop. Hoe dwaas is almal wat hulle afgodsbeelde van hout ronddra, wat bid tot gode wat nie kan red nie!
21 Praat saam, stel julle saak, bring julle bewyse dat afgode kan vertel wat in die toekoms gaan gebeur. Wie het lankal terug gesê wat gaan gebeur? Was dit nie Ek, die Here, nie? Want daar is geen ander God as Ek nie, ’n regverdige God en ’n Redder. Buiten My is daar niemand nie.
22 “Laat die hele wêreld na My toe kom sodat julle gered kan word. Want Ek is God en daar is geen ander nie.
23 Ek lê ’n eed af by my Naam, en sal nooit teruggaan op wat Ek gesê het nie: Elke knie sal voor My buig, en elke mond sal lojaliteit aan My sweer.”
24 Die mense sal sê: “Die Here is die bron van my reg en krag.” Almal wat kwaad vir Hom is, sal skaamkry wanneer hulle voor Hom verskyn.
25 In die Here sal die nageslagte van Israel geregverdig wees en in Hom roem.