1“Maar luister nou mooi, my dienaar Jakob, Israel wat Ek gekies het.
2Dit is wat die Here sê, Hy wat jou gemaak het, wat jou gevorm het in jou moeder se skoot, en jou steeds help: Moenie bang wees nie, my dienaar Jakob, Jesurun wat Ek gekies het.
3Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei. Ek sal my Gees op jou kinders uitstort, en my seëninge op jou nageslag.
4Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilgerbome langs strome water.
5Party sal trots sê: ‘Ek behoort aan die Here.’ Ander sal sê: ‘Ek is ’n afstammeling van Jakob.’ Sommige sal die Here se Naam op hulle hande skryf en die naam van Israel aanneem.”
6So sê die Here, Israel se Koning en Verlosser, die Here, die Almagtige: “Ek is die Eerste en die Laaste. Daar is geen ander God nie.
7Wie is daar wat kan vertel wat in die toekoms gaan gebeur? Laat hulle dit verklaar. Laat hulle verduidelik wat gebeur het vandat Ek my volk gevestig het. En laat hulle verduidelik wat nog gaan gebeur.
8Moenie bewe nie, moenie bang wees nie! Het Ek nie lankal gesê wat my doel met julle is nie? Julle is my getuies. Is daar enige ander God? Nee, daar is geen ander Rots nie. Ek weet van geeneen nie.”
9Mense wat beelde van hulle gode vervaardig, is niks! En die duur beelde wat hulle maak, is niks! Hulle is getuies dat dit so is, want hulle beelde sien niks en weet niks. Geen wonder mense wat gode aanbid, kom in die skande nie!
10Wie anders as ’n dwaas maak sy eie god, ’n afgod wat met net mooi niks kan help?
11Almal wat so ’n god vereer, kom in die skande. Die mense wat die gode maak, dink hulle maak ’n god. Hulle sal almal saam verleë staan en ontsteld en skaam wees.
12Die ystersmid vat gereedskap en werk daarmee in die kole. Hy vorm ’n beeld met hamers en smee ’n beeld met die krag van sy arm. Hy word honger en sy krag word minder. Hy drink nie water nie en word uitgeput.
13Die timmerman wat hout gebruik, meet met ’n maatlyn en merk die buitelyne van die beeld. Hy gebruik beitels en merk dit met passers. Hy vorm die beeld van ’n mens, ’n pragtige beeld, geskik om in ’n tempel te staan!
14Die ambagsman kap seders af. Hy kies ’n sipres of eik. Hy laat dit groei tussen die bome in die bos. Of hy plant ’n lourier, en die reën laat dit groei.
15’n Deel van die hout gebruik hy om vuur te maak sodat hy warm kan word en sy brood kan bak. Met die ander deel maak hy — kan jy glo? — ’n god wat mense aanbid! Hy maak ’n beeld en buig daarvoor neer.
16Die helfte van die hout verbrand hy in die vuur. Hierop berei hy sy kos voor, en eet genoeg daarvan. Hy verwarm hom en sê: “Hoe lekker warm kry ek as ek na die vuur kyk!”
17Dit wat oorbly van die hout gebruik hy vir ’n afgodsbeeld. Hy buig voor dit en aanbid dit. Hy bid tot dit en sê: “Red my tog, want jy is my god!”
18Kan mense so onnosel wees! Hulle verstaan niks! Dis asof hulle oë en verstand toegepleister is sodat hulle niks kan sien of verstaan nie.
19Die mens wat die afgode gemaak het, gaan sit nie en dink bietjie na nie: “Die helfte van die hout het ek verbrand. Op die kole het ek brood gebak, ek het vleis gebraai en geëet. Hoe kan die res daarvan ’n god wees? Moet ek dan voor ’n stuk hout neerbuig en dit aanbid?”
20So ’n persoon bou sy lewe op as. Hy laat hom verlei en kan homself nie red nie. En tog kom hy nie sover om te besef nie: “Wat ek in my hand vashou, is niks anders nie as ’n leuen!”
21“Onthou hierdie dinge, Jakob, want jy is my dienaar, Israel. Ek het jou gemaak. Jy is my dienaar. Ek sal nie vergeet om jou te red nie, Israel.
22Ek het jou sondes weggevee soos wolke verdwyn. Ek het jou oortredings soos wolke laat verdwyn. Keer terug na My toe, want Ek het die prys betaal om jou vry te koop.”
23Sing van blydskap, hemel, want die Here het dit gedoen. Roep hard, dieptes van die aarde! Breek uit in sang, berge, en elke boom en bos! Want die Here het Jakob gered. Hy vertoon sy heerlikheid in Israel.
24So sê die Here, jou Redder wat jou in die moederskoot gevorm het: “Ek is die Here wat alles geskep het. Ek alleen het die hemel oopgespan. Ek alleen het die aarde gevorm.
25Ek stel vals profete as leuenaars aan die kaak, Ek ontbloot waarsêery as gekheid, Ek onthul kennis van wyses as dwaasheid.
26Maar Ek bevestig die woorde van my profete en vervul die voorspellings van my boodskappers wanneer hulle van Jerusalem sê: ‘Dit sal herbou word,’ en van die stede van Juda: ‘Hulle sal opgebou word.’ Van hulle ruïnes sê Ek: ‘Ek sal hulle herstel.’
27Wanneer Ek vir die see sê: ‘Droog op!’ sal dit opdroog.
28En wanneer Ek van Kores sê: ‘Hy sal my herder wees,’ sal hy alles doen wat Ek sê. Van Jerusalem sal hy sê: ‘Dit moet herbou word!’ Van die tempel sal hy sê: ‘Die fondamente moet herstel word.’”