Isaiah 41NLV

1“Bly stil en luister na My, eilande en kusgebiede. Laat die nasies hulle sterkste argumente kom stel. Laat die hof die saak uitmaak.

2“Wie het iemand uit die ooste wakker gemaak? Hy behaal heelpad oorwinning. Die Here gee nasies aan hom oor en onderwerp konings aan hom. Hy maak hulle tot stof met sy swaard. Sy boog maak van hulle kaf wat die wind wegwaai.

3Ongehinderd agtervolg Hy hulle, al was hy nog nooit voorheen op dié pad nie.

4Wie het sulke magtige dinge gedoen en die verloop van dinge van die begin af bepaal? Dit is Ek, die Here, die Eerste. Wanneer die laaste dinge gebeur, sal Ek, die Here, nog daar wees.”

5Die eilande kyk toe in vrees, die aarde se eindes bewe. Hulle kom nader vir die geveg.

6Hulle praat mekaar moed in en sê: “Wees sterk!”

7Die werksmense maak gou nuwe gode. Die ambagsman jaag die goudsmid aan, en die een wat die metaal uitklop, help hom wat by die aambeeld werk. “Die smeewerk is goed!” sê hulle. Dan slaan hulle die beeld met spykers vas sodat dit nie omval nie!

8“Maar jy, Israel, my dienaar, jy is Jakob, wat Ek gekies het, afstammeling van Abraham, my vriend.

9Jou het Ek teruggeroep vanaf die uithoeke van die aarde. Ek het gesê: ‘Jy is my dienaar,’ want Ek het jou gekies. Ek het jou nooit verwerp nie!

10Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek laat jou oorwin met my regterhand wat mense red.

11“Almal wat vir jou kwaad is, sal in die skande kom en verleë wees. Almal wat jou weerstaan, sal vergaan.

12Jy sal jou vyande soek, maar hulle nêrens kry nie. Almal wat teen jou oorlog maak, sal soos niks wees!

13Ek gryp jou regterhand vas. Ek is die Here jou God. En Ek sê vir jou: ‘Moenie bang wees nie. Ek is daar om jou te help!’

14Moenie bang wees nie, nietige wurmpie, Jakob! Al is jy min, Israel, sal Ek jou help, sê die Here. Ek is die Een wat jou red, die Heilige van Israel.

15Kyk, Ek maak jou soos ’n nuwe dorsslee met baie skerp tande. Jy sal die berge fynmaal, die heuwels tot kaf maak.

16Jy sal hulle uitwan, en ’n wind sal hulle wegwaai. ’n Stormwind sal hulle verstrooi. Maar jy sal bly wees in die Here en roem in die Heilige van Israel.

17“Die armes en behoeftiges soek na water, maar kry niks. Hulle tonge bars van dors. Dan sal Ek, die Here, hulle verhoor. Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.

18Ek sal riviere laat ontspring op die hoë bergpieke. Ek sal vir hulle fonteine gee in die valleie. Ek sal die woestyn in ’n poel water verander. Ek verander die droë, gebarste grond in fonteine.

19Ek sal bome plant in die woestyn — seders, doringbome, mirte en olyfbome. Ek laat in die droë wêreld sipresse groei, ook platane en denne.

20Almal sal hierdie wonderwerk sien gebeur. Hulle sal dan verstaan dat die Here dit gedoen het. Die Heilige van Israel het dit geskep.

21“Stel nou julle saak,” sê die Here. “Kom met julle beste argumente,” sê die Koning van Jakob.

22“Bring julle afgode om vir ons te vertel wat gaan gebeur. Sê vir ons wat voorheen gebeur het sodat ons kan oordeel of hulle die waarheid praat. Of vertel vir ons wat gaan gebeur.

23Vertel vir ons wat die toekoms inhou sodat ons kan bepaal of julle gode is. Doen enigiets, goed of sleg. Dan sal ons verwonderd staan en bang vir julle word.

24Maar kyk, julle is minder as niks en wat julle kan doen, is waardeloos. Mense wat julle as hulle gode kies, is net so veragtelik soos julle.

25“Ek het ’n leier laat opstaan wat uit die noorde kom. Ek roep hom uit die ooste op sy naam. Hy trap op leiers asof hulle modder is, soos ’n pottebakker wat klei trap.

26“Wie van julle het dit van die begin af gesê sodat ons dit kon weet, vantevore al sodat ons sou kon sê: ‘Hy was reg’? Niemand het dit geweet nie. Niemand het dit voorspel nie. Niemand het eers gehoor dat julle ’n woord daaroor sê nie.

27Ek was die eerste wat vir die tempelberg gesê het: ‘Kyk, hier kom hulp vir jou!’ Ek het ’n boodskapper met goeie nuus na Jerusalem toe gestuur.

28Nie een van die afgode het jou dit kon vertel nie. Toe Ek hulle vra, kon niemand ’n antwoord gee nie.

29Hulle is almal vals! Wat hulle doen, beteken niks. Hulle is so leeg soos die wind.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 41.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.