Isaiah 40NLV

1“Troos, troos my volk,” sê julle God.

2“Praat sag met Jerusalem. Sê vir hom sy hartseerdae is verby. Sy sondes is vergewe. Die Here het hom klaar gestraf vir al sy sondes.”

3Luister! Ek hoor die stem van iemand wat roep: “Bou ’n grootpad vir die Here deur die woestyn. Maak ’n reguit pad vir ons God deur die wildernis.

4Vul die valleie op! Maak elke berg en heuwel gelyk, elke ruwe plek ’n gelykte, elke koppie ’n vlakte.

5Dan sal die heerlikheid van die Here bekend word en alle mense sal dit sien. Die Here self het so gesê.”

6’n Stem sê: “Roep!” Ek het gevra: “Wat moet ek roep?” “Roep uit: Alle mense is soos gras. Hulle bekoorlikheid is soos blomme van die veld.

7Gras verdor en blomme verwelk as die Here sy asem daaroor laat waai. So is dit ook met mense.

8Gras verdor, blomme verwelk, maar die woord van God bly vir altyd.”

9Boodskapper van goeie nuus, roep vir die tempelberg van die bergpieke af! Boodskapper van goeie tyding, roep hard vir Jerusalem! Moenie bang wees nie. Sê vir die stede van Juda: “Hier is jou God!”

10Die oppermagtige Here kom met heerlike krag en regeer met mag. Kyk, Hy bring sy beloning saam. Dit is by Hom.

11Hy versorg sy kudde soos ’n herder. Die lammers maak Hy bymekaar in sy arms, en dra hulle naby sy hart. Skaapooie met lammers versorg Hy.

12Wie anders het die oseane in sy hand gehou? Wie het die hemel afgemeet met die breedte van sy hand? Wie het die grond van die aarde met ’n maatemmer gemeet, of het die berge en die heuwels met ’n skaal geweeg?

13Wie kan die Gees van die Here advies gee? Wie weet genoeg om Hom raad te gee of Hom te leer?

14Het die Here al ooit raad van ander nodig gehad? Het Hy nodig dat iemand Hom vertel wat die goeie is of wat die beste is?

15Al die nasies van die wêreld is vir Hom soos ’n druppel in ’n emmer, soos stof op ’n skaal. Hy tel die eilande op asof hulle geen gewig het nie.

16Die Libanon se hout is nie genoeg vir offers, en sy diere nie voldoende vir brandoffers nie.

17Die nasies van die wêreld is vir Hom soos niks. In sy oë is hulle waardeloos, asof hulle nie bestaan nie.

18Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk?

19Kan jy Hom vergelyk met die afgodsbeeld? Dis deur ’n vakman gemaak, ’n goudsmid het dit met goud oorgetrek en met silwerkettinkies versier.

20Wie te arm is vir so ’n offer aan sy god, kies hout wat nie vrot nie en soek vir hom ’n bedrewe ambagsman om vir hom ’n beeld te maak wat nie omval nie.

21Weet julle dan nie? Verstaan julle nie? Is dit dan nie in die begin aan julle vertel nie? Weet julle nie Wie die aarde gegrondves het nie?

22God sit op sy troon bokant die hemelkoepel. Die mense op aarde lyk vir Hom soos sprinkane. Hy sprei die hemel uit soos ’n gordyn, Hy sprei dit oop soos ’n tent om in te woon.

23Hy oordeel oor vername mense en verlaag regeerders van die wêreld asof hulle nie bestaan nie.

24Hulle is skaars geplant, skaars gesaai, het skaars wortelgeskiet, of Hy blaas oor hulle en hulle verwelk en ’n stormwind waai hulle weg net soos kaf.

25“Met wie sal julle My vergelyk? Wie is my gelyke?” vra die Heilige Een.

26Kyk op na die hemel. Wie het die sterre gemaak? Hy laat hulle soos ’n leërmag uitmarsjeer, die een ster na die ander, en roep elkeen by sy naam. Met sy groot krag en mag sorg Hy dat nie een wegraak of verdwaal nie.

27Israel, hoe kan jy dan sê: “Die Here sien nie my moeilikheid raak nie”? Hoe kan jy beweer: “God weier om na my saak te luister”?

28Het jy nog nooit gehoor of verstaan nie? Weet jy nie dat die Here van altyd af God is nie? Hy is die Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg of gedaan nie en niemand kan die dieptes van sy insig meet nie.

29Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die kragteloses sterk.

30Selfs jongmense raak uitgeput en afgemat. Baie jongmense struikel en val.

31Maar dié wat hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg hoog, soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Choose Translation

Switch translation for Isaiah 40.

Reading Settings

Paragraph viewDisplay verses as flowing paragraphs instead of individual lines
Show verse numbersDisplay verse numbers inline
Red letterHighlight the words of Christ in red

Sign in to save your reading preferences across sessions.